Almal staan bakhand
“Hou op stry. Ek gaan ‘n ongeluk maak. Pietie, laat Sannetjie ook die boek deurblaai,” beveel Trudie vies. Sy hoop maar net die Huisgenoot se bladsy is leesbaar as sy later vandag by die huis kom.
Die verkeerslig slaan rooi en sy verminder haar spoed. Hou stil. Onder die verkeerslig sit ‘n hopie mens. Sy vel lyk soos leer. Taai en hard en vol krakies wat getuig van die tekort aan sonweerder. Sy klere is gehawend. Sy hare hang in droë grys-wit slierte op sy skouers. Duskant hom is een hout kruk. ‘n Verband is om die dwarsbalkies gedraai. Dis al bruin soos die grond van die middelmannetjie. Die ou oom kyk Trudie stip aan. Sy laat haar kop skaam sak en bid dat die groen lig gou die rooie aflos. Iemand klop langsaan haar teen die venster. Die swart man staan bakhand. Hy lyk honger. Sy oë vaal. Sy hare verniel deur die ongenadige son. Sy klere getuig nog dat daar in 2010 ‘n Wêreldbekersokker-toernooi was. Hy sê iets. Sy mieliepittande is geel.
Trudie skud haar kop en skrik toe die voertuig agter hare toet. Die groen lig brand. “Dis my beurt,” skree Sannetjie. Trudie weet sommer Sannetjie pluk nou die tydskrif uit haar sibbe se hande. Trudie sien in die truspieëltjie hoe die ouer kind sy suster se hare trek. “Eina!” skree die jongste Van der Merwe.
“Hou op!” skree die ma. Sy sit dadelik die flikkerlig na links aan en trek van die pad af. Die voertuig stop so twintig meter van die bondeltjie mens weg. In die truspieëltjie sien sy dat die boemelaaroom in haar rigting kyk. So ook die aankomende en verbygaande verkeer. Trudie luister eers ‘n paar sekondes hoe die noodligte flikker. Aan-af, aan-af, aan-af. Sy draai skuins in haar stoel. “Ek het julle gewaarsku om op te hou. Geen normale mens sal dit met julle twee kan uit hou nie. Ek het ‘n hengse hoofpyn en julle hou aan om dit te vererger. Dis tyd dat julle pa julle kom haal vir die vakansie, want julle loop met jul moddervoete bo-oor my goedheid.” Sy spoeg die woorde soos ‘n vuurspuwende draak ondanks dat sy eers tot tien getel het.
“Hy het begin,” sê Sannetjie verwytend.
“Is nie, dit was sy!” verdedig Pietie.
“Klim nou uit. Albei van julle,” sis Trudie deur haar tande.
“Ma, dis Gauteng die. Nou-nou gang rape die ouens ons hier,” probeer Pietie sy ma haar opdrag laat heroorweeg.
“Ja, Ma. En wat gaan Pappa dan sê?” snip die jongste.
“Dé, vat my pepersproei en spuit enige bliksem wat naby kom, maar moet tog net nie mekaar spyt nie, want dan moet ons hospitaal toe en ek het waaragtig nie die geld vir ‘n vyfster-hospitaal nie,” dreig die ma haar kinders.
“Gaan Ma nou ry?” vra Pietie verwytend.
“Nee, klim net uit dat ek kan dink en gee daai dekselse Huisgenoot hier. Ek gaan lees tot ek beter voel en julle kan nou maar dinge uitpraat of mekaar pap slaan en bles maak, maar nou moet ek eers tyd vir myself hê. Neem sommer ‘n video vir julle liewe Pappa ook. As hy nie met die lugwaardin huis-huis gespeel het nie, sou hy julle vandag by die skool gaan haal het en dan het ek nie nou langs twee hooligans in skooluniform, op die highway, met my hazards aan gestaan nie.” Trudie voel hoe haar hartklop versnel. Sy haal gefokus diep en stadig asem. Sy maak die panneelkissie oop en haal ‘n halwe angspil uit om onder haar tong te sit.
Sy blaai die Huisgenoot deur. Lees net opskrifte en kyk foto’s. Dit neem haar vyf salige minute, maar sy weet vir haar kinders behoort dit na ‘n leeftyd te voel en – siende dat sy ook nog nie pepersproei geruik het of harde gille gehoor het nie – sy besef dat sy rustiger voel. Sy haal diep asem en wuif vir die kinders om in te klim. Albei het intussen langs mekaar op die middelmannetjie gaan sit. Sy kry vinnig en skelm lag, maar verdoesel dit gou met ‘n ernstige gesig toe hulle in klim. Pietie is dikbek en Sannetjie lyk verleë. Die oom in die spieël skud sy kop, laggend.
“Jis Ma, was dit nou nodig? Die hele skool het hier verby gery. Môre is ek die grap van die jaar by die skool.” Pietie klink so verwytend soos sy pa, dink Trudie. Albei blind vir hul eie bydra tot hul omstandighede.
Sannetjie, dalk nes syself, wil die laaste woord in kry. “Dis net omdat jou girlfriend jou op die pavement moes sien, sit.” Trudie sien hoe gluur haar seun haar dogter aan. “Dalk sal Mandy net dink dat ons karprobleme gehad het. Dit gebeur mos met almal,” probeer die vlegselkind tog haar broer troos. Sy blik op haar versag.
“Goed, ons het nou geregroup. Nou gaan ons na tannie Elizca toe vir haar verjaarsdag.”
“Ek het huiswerk, Ma,” roep Pietie geïrriteerd. Hy het al selde dié verskoning gebruik, dink Trudie.
“Ek ook, Ma!” eggo Sannetjie.
“Ons gaan net geluksê, julle twee.”
Elizca se voorportaal is vol blomme en die geskenkpakkies is te veel vir die semi-ronde tafel. Die “vinnig inloer” verlangsaam toe daar koek en koeldrank bedien word. Trudie gesels met haar vriendin, Pietie met Elizca se dogter, Sandy, en Sannetjie met haar skoolvriendin en Elizca se tweede dogter, Lina. Die twee graad ses dogters se stemme word stil toe hulle in ‘n kamer verdwyn en die twee graad agts het koers gekies na die lapa waar hulle een kant kan praat. Albei Van der Merwetjies het gerieflikheidshalwe van hul huiswerkhaas afgesien. Maar die bejaarde boemelaar bly in Trudie se gedagtes. Sy luister met ‘n halwe oor en toe sy die koek wil eet, sit dit vas in haar keel. Sy verskoon haarself en samel haar kroos in. Albei kinders is dikmond en stil totdat hulle besef sy ry terug vanwaar hulle vandaan kom – sy ry in die rigting van die skool en nie huistoe nie!
“Ma! Die huis is ander kant toe,” sê Pietie toe sy links draai in plaas van die normale regs.
“Ek weet, ek weet. Ek wil net gou vir iemand iets vat.” Sy ry tot by die einste verkeerslig van vroeër. Die skewe een waaronder die oom langs sy kruk sit. Sy hou weer langsaan die pad stil, sit weer die noodligte aan en klim uit met die Huisgenoot in haar hand. “Pietie, hou die fort.” Sy loop in die rigting van die oom.
“Hierso, Oom.” Sy hou die tydskrif uit na die oom waar hy op sy gerafelde mat, wat na urine ruik, sit. “Dit veroorsaak net moeilikheid in ons familie. Nie dat ek vir oom ‘moeilikheid’ wil aan pass nie,” sy glimlag verleë.
“Dis okay, Kind. Dankie. As ek beter besluite geneem het, sou ek veg vir my familie al is daar moeilikheid of moles. Maar nou is ons té ver verwyder. Té skaam. Té onvergewensgesind. Té hoogwaardig. En eintlik is ons almal maar boemelaars.”
Die oom se seeblou kykers sien die frons op Trudie se gesig. “Ons almal kom die wêreld binne met niks. As ons gelukkig is, sorg ons ouers vir ons. Ons kry sonder om te verdien. Ons kry ook aanvaarding, liefde en omgee – dinge waarvoor almal van ons eintlik bakhand voor mekaar staan, want daardie liefde en omgee kan geweier word. Ons staan bakhand vir werk wat ons in staat stel om te oorleef. As die baas sê, ‘nee, jammer, nie vandag nie,’ dan is dit so.”
Trudie knipper haar oë teen die skerp lig. Sy draai haar rug na die son. “Dis alles net genade, Oom.”
“Ja, so is vergifnis ook kind. Dit kan gebedel word, maar dis nie noodwendig dat iemand dit gaan gee nie. Maak jou las lig, Kind. Jy het nog ‘n ver ent om te stap.” Dit voel asof die oom se ligte blou oë die donkerkolle in haar hart verlig en sy weet by watter ‘boemelaar se bakhande’ sy volgende moet gaan stop om aan hom vergifnis te skenk.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.