’n Dans vir Gina
(Goud)
Ek skryf vir jou ’n dans, Gina
midde hierdie donkerste uur.
Kom die môrelig hier aan
wil ek ’n wals en ’n woord
vir jou stuur.
Dans, Gina, dans –
uitbundige danse
soos die fynbos wat groei
teen Potberg se kranse.
Soos ’n riet in die wind
wat verlossing vind in dié wete:
Al sou storms en weer
tot die uiterste terg,
met voete geanker in die ewige berg,
kan jy dans, Gina
kán jy dans.
Dans
al voel die swart sonder ophou,
al lê die dag ’n ligjaar ver.
Hoe dieper die donker, Gina
– hoe blinker, hoe blinker
die ster.
Dans, Gina, dans
want die dans maak jou vry
(dans, Gina, dans)
want jou nag is verby.
© Carma Shaw
7 Desember 2019
3:33
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2019 projek - Dans asof niemand sien nie