Lieftydig
Lieftydig
Popklanke van die lente gly kommervry verby
waar kalwerliefde vreesloos van onskuld wil bevry
swel gou tot ryp aksente wat die ewigheid takseer
as liriekgedrewe luister tot in die siel vibreer
swem lustig in die liefdesvloed
in die volle drang van somergloed
Die najaar kom instrumentaal wat meevoer sonder woord
liefdestaal ver-eg soos roes met ‘n eerlike akkoord
klassieke note begelei die siel deur wintervaal
en liefde klou verbete aan die draad van die verhaal
tot die swaar geleide afskeidsnoot
by gedwonge soet begrafnisbrood
Die klanke is nog daar maar verwyderd van die dans
die hart verdwaal in gister want môre vat geen kans
tot die tromslag van voorsienigheid met hartsnare resoneer
en lankvergete jeugdigheid ontydig repeteer
Vervloë note jaag mekaar, onverdunde hartekstrak
in die snelbaan van die liefde, tot simfonie verpak
Colin Steyn
31 Aug 2023
* ver-eg – eerliker uitdrukking
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2023 – Musiek projek