AGTER DIE LIG
Ek het baie in my gedagtes geworstel met die besluit of ek hierdie artikel moet skryf vir Ink se Juniemaand projek-opdrag oor die ‘onbekende’, aldan nie, daar my antwoord grootliks gebaseer is op my persoonlike ervaring tydens en na ’n groot hartomleidings-operasie wat ek so ses jaar gelede ondergaan het. Ten einde het ek tog maar besluit om dit in hierdie artikel met julle te deel, nadat ek ’n studie gemaak het oor die menslike brein en sy funksionering as ‘diensverskaffer’ aan die liggaam.
As vertrekpunt, maak ek dan ook die geloofsuitspraak dat die mens, ek en jy, ’n spieëlbeeld van ons Skepper is. God het die mens geskape na Sy beeld en Sy gelykenis en Sy asem van lewe in die mens geblaas, sodat die mens ’n lewende siel kon word. Iemand wat kan dink, kan praat, kan redeneer, iemand wat gevoelens het. Wat ’n wonderbaarlike skepsel van God, die mens, ék en jý!
Van al God se skeppingswerke in die heelal, is die mens en die menslike brein sekerlik die mees ingewikkeldste en komplekse entiteit. Dit is juis in hierdie wonderlike orgaan van ons, ons brein, waar ons as’t ware ‘worstel’ met die onbekende. Neurowetenskaplikes het vasgestel dat die menslike brein ongeveer 1.4 kilogram weeg, en bestaan uit die grootbrein, die kleinbrein en die brein- of harsingstam.
Ter inleiding wil ek net, baie kripties, ’n paar aspekte van die menslike brein en sy funksionering uitlig. Die bedoeling is nie hier om ’n volledige anatomie van die brein en sy werking in die menslike liggaam te bespreek nie, daar dit buite die skopus van hierdie artikel geleë is. Ek wil slegs die wonderlike werking van hierdie orgaan aan jou uitlig, en daarnaas my persoonlike ervaring met die ‘onbekende’ met jou deel.
Die brein is in twee helftes verdeel bekend as hemisfere. Hierdie hemisfere word met mekaar verbind deur ’n dik band bestaande uit 200 250 miljoen senuvesels. Laasgenoemde is verantwoordelik vir die kommunikasie tussen die twee helftes. (Dít kan beskou word as die kanaal waardeur die stem van die Gees van God beweeg.) Om behoorlik te kan funksioneer in ons daaglikse handel en wandel het ek en jy albei helftes van ons brein nodig.
Ons linkerbrein is verantwoordelik vir die vorming van ons taal, ons taalbegrip, logiese denke en die oplossing van probleme waarmee ons daagliks gekonfonteer word.
Die regterbrein is verantwoordelik vir ons vermoë om voorwerpe te, herken, ruimtebeheer, die oordrag van emosies, musiekwaardering en begripsvermoë.
Tereg vra jy nou vir my ‘Maar wat het die brein met die onbekende te doen, wat wil jy nou eintlik vir my sê?’Die antwoord op jou vraag lê opgesluit in die volgende persoonlike ervaring wat ek so ses jaar gelede gehad het tydens ‘n groot hartomleidings-operasie, waar onvoorsiene komplikasies ingetree het en ek inderhaas ‘n tweede operasie moes ondergaan.
Tydens die operasie het my hart gaan staan, blykbaar as gevolg van ’n probleem met die masjien wat my hart aan die klop moes hou tydens die operasie. Ek kon voel hoe ek uit my liggaam opstyg tot teen die dak van die operasiesaal, vanwaar ek afgekyk het na die dokters en verpleegpersoneel wat desperaat sukkel om my hart weer aan die klop te kry.
Ek kon nie verstaan hoekom almal so desperaat rondskarrel nie, want ek ervaar geen pyn of ongerief nie. Inteendeel, ek het tevrede gevoel met myself en waar ek was. Daar het ek besef dat my liggaam nietig is, en dat daar ‘iets’ buite die stoflike liggaam is – die onbekende.
Wat verder gebeur het kan ek nie veel van onthou nie, behalwe toe die verpleegster my met die gang afstoot na die intensiewe sorgeenheid. Ek kan onthou dat dit so lang gang was met helder lig op die einde van die gang. Oral teen die mure van die gang was daar pragtige foto’s van voëls en diere en pragtige plante – alles goed waarvan ek baie hou.
Ek het ’n onbeskryflike gevoel van vrede en geluk ervaar, en ek wou so graag by daardie helder lig uitkom, want agter daardie lig, het ek geglo,(en glo ek nogsteeds tot vandag toe), lê die onbekende. ’n Dag later het ek wakker geword in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal. Ek het gesoek na die lig in die gang, want agter die lig lê die ‘onbekende’.
Die kruks van die storie is dat die wonderlike brein van die mens nie die ‘onbekende’ agter die lig kan ontrafel nie. Deur buite jou bekende wêreld na die ‘onbekende’ te probeer beweeg word jou begripsvermoë oorspan …
_______________________oo00oo_____________________
@Pierer Mostert
[Silwer]
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Junie 2024 – Die onbekende projek