Al staan jy op jou kop
AL STAAN JY OP JOU KOP …
Magrieta rou. Elke dag dra sy ‘n ander skakering swart onder haar lang enkellengte jas. Sy het opgehou om bly te raak oor kleur, want dit het kleurloos geword in haar hart.
Dit is hoe Magrieta die winter beleef. Sy gaan klas toe soos altyd en voer haar take met dieselfde noukeurigheid uit soos sy haar ouers beloof het, maar neem aan geen kampusbedrywighede deel nie. Behalwe as dit depressief of filosofies is.
Die Jakarandas begin al bot toe sy op ‘n dag weer voor haar kas staan en ‘n groen serp om haar hare bind en nie weet waarom nie. Om een of ander rede, in die dae wat volg, voeg sy elke dag bietjie meer kleur by.
“Ek sien jy is besig om uit jou grot te kruip,” sê Klara, haar huismaat, eendag terloops.
“Dink jy so? Jy bedoel seker my hemp. Ek het vergeet om my swarte gisteraand uit te was en die ander een is te warm,” antwoord sy ongeërg.
“Ek dink jy is besig om oor Hendrik te kom,” hou Klara vol.
“Nooit! Ek sal nooit oor Hendrik kom nie. My diepste wese is vermink en ek sal die letsel vir die res van my lewe dra.”
Klara stem nie saam nie, maar sê niks. Sy kan sien dat die morbiede, selfopgelegde rou besig is om die wyk te neem en is heimlik verlig daaroor.
Teen die tyd dat Magrieta haar heksejas vir die seisoen moes ophang, het daar nog net so hier en daar ‘n swartigheidjie ingesluip in haar daaglikse mondering. Sy het selfs haar hare weer laat knip.
Klara het haar fyn dopgehou en toe die tyd ryp was, die kans gebruik.
“Maggie, kom saam vanaand. Ons gaan jol en ek dink dis tyd dat jy saamgaan.” Magrieta het eers walgegooi, maar die uitnodiging was skielik aantrekliker as die lang Vrydagaand by haar lessenaar.
“Sê eers wie is almal jou ons. Ek gaan nie derdemannetjie speel nie.”
“Nee, man. Jy het so uit voeling geraak dat jy nie eers agtergekom het dat ek en Fritz uit is nie. Ons is sommer net so klomp bymekaar. So ses of so.”
En dié aand neem Klara vir Magrieta onder hande. Eers het sy nie kans gesien vir die vals wimpers nie, maar Klara dring aan en sy moet sit. ‘n Paar keer plak dit nie waar dit moet nie, maar die uiteinde het haar ooglede bekroon met ‘n paar pragtige ronde afdakkies. Swart oogomlyner het die prentjie voltooi en die bleekpienk lipstiffie gekomplimenteer. Haar ooglede het swaar gevoel van die ongewone gewig, maar sy het gou die kuns bemeester om haar kop effe agteroor te hou en haar wenkbroue ‘n aks op te trek. Dan het sy genoeg visie gehad om enigeen in die oë te kyk. Toe daar ‘n klop is by die voordeur was sy wel senuagtig, maar darem opgewonde ook. Sy was gereed om weer die lewe aan te pak en te geniet. Hendrik was besweer.
Hulle is sewe in getal. Omtrent net die bestuurder van die giggelgeel Volkswagen se skoot het nie ‘n passasier op nie, maar hy het gesukkel om die motor in rat te hou tussen die lang gekousde bene van Chantal.
Magrieta moes as’t ware weer ingelyf word in die pret van student wees. Klara het haar formeel aan elkeen voorgestel en die laaste ou laat haar hart drie slae mis.
Die lang donker man is Allissandro Vellini. Hy het afgebuig en haar gegroet met ‘n kus op haar hand en sy het taalloos gestaan in die lading van sy elektrisiteit.
Deur die beskerming van die vals afdakkies het sy af en toe na hom geloer en elke keer in die donker motortjie gebloos as sy in sy swart oë vaskyk.
By die mini-gholfbaan het hulle uit die Volla gepeul en oor en weer gespog oor wie die kampioenspeler is. Magrieta was verbaas omdat sy soos die ander normale, lawwe studente kan meedoen. Maar die heeltyd is sy bewus van Allissandro asof hy ‘n magiese spreuk oor haar uitgespreek het.
Elke nou en dan kom praat hy spesiaal met haar in sy swaar Italiaanse aksent. Sy antwoord net wat sy verstaaan en maak haar dan uit die voete. Sy was blosend in sy teenwoordigheid.
Klara het haar eenkant ingelig dat hy ‘n uitruilstudent van ‘n universiteit in Rome is en al die meisies op die kampus is op hol oor hom.
“Dis dan die eerste keer dat ek hom sien,” protesteer Magrieta fluisterend terug.
“Het jy vergeet waar jy die afgelope ses maande was? Dit lyk nogal of hy spesiale sinnigheid in jou het, ou Maggie. Speel nou jou kaarte reg …”
Na die sports op die setbaan, is almal honger. Dis ‘n maklike probleem om op te los – reguit na die gewone studente kuierplek. Tafels word teen mekaar geskuif en Magrieta kies met sorg ‘n stoel ver van Allissandro af. Sy nabyheid maak haar jellierig. Dit keer hom egter nie. Hy ruil eenvoudig plekke totdat hy langs haar sit. Sy probeer hom ignoreer, maar hy is vasberade om ‘n gesprek met haar te voer in sy byna onverstaanbare Engels. Sy knik net haar kop en probeer om die wimpers, wat al swaarder begin hang, oop te hou. Dit raak ‘n impromptu partytjie met bier, wyn, pasta en pizza.
“I want you …” Magrieta se kop ruk op toe sy besef die Italianer praat met haar en verbasing breek oor haar bleekgepoeierde gesig. Sy hande windmeul in die lug, klaarblyklik op soek na die regte woorde.
“I want you to … a … what is … sleep, I think is word, with me?” Hy wys na haar en druk dan sy vinger teen sy breë bors. Sy sit verstorwe.
Nou kyk, sy is nie so preuts dat sy nog nooit ‘n lekker warm vry geniet het nie, maar om so ‘n aanbod, op so te sê die eerste aanblik te kry, is bietjie erg. Wat hy vra is absurd en sy skud haar kop heftig.
“Why?” vra hy verbaas, handpalms na bo. “You not like me?”
Eers skud sy haar kop, besef dis nie waar nie en knik dan haar kop. Sy haal diep asem en probeer verduidelik dat sy van hom hou, maar beslis nie by hom of saam met hom wil slaap nie. Hy laat hom nie afskrik nie en gee haar ‘n breë spierwit glimlag.
“We see.”
Voor hy weer kan praat, draai sy na Chantal en raak kamma betrokke by die gesprek terwyl haar verstand voel of dit gelyktydig stol en tol.
Toe almal versadig en lam gelag is, ry hulle terug koshuis toe. Haar hartklop is steeds onreëlmatig. Sy wens sy kon Italiaans praat of dat hy ten minste Afrikaans kon verstaan. Eintlik behoort sy beledig te voel oor die onbeskroomde aanbod, maar die waarheid is dat sy heerlik gevlei voel.
By die studentehuis waar Magrieta en Klara bly, klim Allissandro ook uit en praat met Peet deur die motorvenster. Hulle ry laggend en toetend weg en verbouereerd bly sy alleen teenoor hom staan. Skielik het Klara ook verdwyn. Hy neem haar hand en praat onsamehandig. Hy lei haar na ‘n bankie oorkant die tuinmuur en sy gaan sit op die punt. Hy kyk onbegrypend na haar en gaan sit dan op die ander punt.
“I scare you?” vra hy soos ‘n seuntjie wat nie verstaan waarom hy verwerp word nie. Sy skud haar kop.
“Why you sit so … there?” Sy is inderdaad effens bang, maar wil ook nie sy gevoelens kwes nie. Dalk is hy een van daardie snaakse ouens wat reageer op ‘n meisie se vrees of wanneer hy te nagekom word. Hulle is darem nie so afgesonder dat niemand haar sal hoor as sy gil nie.
Skielik staan hy op en tot haar verbasing gaan buk hy voor die muur, druk sy kop op die grond en skiet sy bene in die lug op.
“Look, Margaretha, I will do … no thing,” sê hy en vou sy arms oor sy bors. Haar mond hang oop. Sy wil hê hy moet weer kom sit, maar haar mond is te droog.
“You bella, Margaretha, bellissima … beautiful. I not hurt you. Now we talk.”
En hulle praat. Vir ‘n kwartier lank gesels sy met die onderstebo Italianer en antwoord sy vrae. Haar grootste vrees is verby; sy sien hy kry swaar so op sy kop en nooi hom om te kom sit wat hy dan ook weer daar ver op die ander punt doen. Hy probeer haar weer oortuig om met hom te “sleep”, maar sy hou voet by stuk en dwing haar verstand om haar hart te ignoreer.
Hy stap saam met haar tot by die voordeur en neem weer haar hand. Die keer lê hy sag sy lippe op haar handpalm.
“We meet again,” groet hy.
Haar maag tuimel en sy fladder die swaar wimpers. Dit het skynbaar ‘n uitwerking op hom, want hy druk op sy hart en kyk op na die stoeplig. Voor sy die deur finaal toestoot, loer sy om en knipoog verspot.
In haar kamer voel sy lighoofdig. Sy weet dit is die grootse gevoel van verlief wees. As ‘n mens so voel, wys dit ook gewoonlik. Sy maak haar kasdeur oop om na haar spieëlbeeld te kyk.
Sy glo nie wat sy sien nie! Haar oë is twee groot Pandakolle. Die wimpers het losgetrek aan die buitehoeke en staan met opwaartse punte sodat sy na ‘n selfgemaakte Sjinees lyk. ‘n Baie blonde Sjinees. In stomme skok staar sy na haar beeld.
Daardie man het haar sowaar so gesien en dan vertel hy nog vir haar “Margaretha, you beautiful”; urrgggg!
Sy kan nie gou genoeg by die badkamer kom nie. Hoewel die wimpers se punte begin los is, is dit pynlik om die res ook los te kry. Haar ooglede is rooi en geswel toe die goed uiteindelik soos haarwurms in die wasbak lê.
Sy wil Allissandro nooit weer sien nie! Hy het haar vir die gek gehou. Sy sal hom nooit weer in die oë kan kyk sonder om in as te verander nie. Sy kan nie eers haar lot by Klara bekla nie, want sy slaap al.
Maar die volgende oggend dam Magrieta Klara by. “Hoekom het jy nie gisteraand vir my gesê watse spektakel ek lyk nie?”
“Maar jy het nie ‘n spektakel gelyk nie, waarvan praat jy?”
“Jy weet goed. Ek praat van my grimering wat gesmelt het en die wimpers wat losgegaan het.”
‘Jy het g’n so gelyk nie!”
“Ek hét. Toe ek terugkom en ek in die spieël kyk ís dit soos ek gelyk het. Ek voel die grootste gek! Wat dink jy dink Allissandro nou van my? Hy lag seker nou nog oor die naïewe Afrikaanse meisietjie,” maar sy swyg oor sy versoek, of was dit ‘n aanbod …
“Ag wat, man, dalk sien jy hom nie eers weer nie,” troos Klara.
“Dis juis waaroor ek so boos is! Ek wíl hom weer sien,” tier sy byna in trane. “Nou sal ek hom nie in die oë kan kyk nie … nie na ek soos iets uit die Adams-family gelyk het nie.”
Klara is nogal verbaas oor Magrieta se hewige reaksie. Die meisiekind was nog altyd bietjie aan die oortreffende trap-kant van dramaties, maar sy het nie gedink hulle grap … sou Magrieta regtig geval het vir die Allissandro-karakter?
“… en hy het so oulik gelyk daar op sy kop …”
“Op sy wat?” vra Klara nou geheel in die war.
“Ag, jy sal nie verstaan nie.”
“Ek dink weer ek verstaan wel. Jy is verlief op die ou!”
“Ja wel, ek … miskien,” kom Magrieta se antwoord beskimmeld.
“Sommer so in een aand,” mymer Klara. “Dalk onthou hy nie eers daarvan nie en dit was mos donker ook,” troos sy sonder om te ernstig te klink. Haar verstand wentel in hoogste versnelling. Uhmm … , sal jy solank vir ons koffie maak? Ek wil net gou bel.”
Klara spring in klere en gaan staan buite terwyl sy haastig met Peet praat.
‘n Week gaan verby waarin Magrieta onsigbaar probeer beweeg van klas tot klas. Sy loer eers om elke hoek voor sy stap en hou haar skaars by openbare plekke soos die kafeteria en biblioteek.
Soos afgespreek met Peet, maak Klara Vrydagaand gereed vir hulle afspraak. Sy is nog nie klaar toe hy aankom nie en vra Magrieta om hom te vra om te wag, sy sal nie lank wees nie.
Magrieta maak die voordeur oop en wil dit dadelik weer toeklap, maar ‘n vinnige voet in die deur keer haar. Haar hart het dwarsdeur haar maag se bodem geval, want voor haar staan Allissandro.
“Magrieta, wag!” sê hy in perfekte Afrikaans, die Margaretha van die vorige Vrydagaand het verdwyn.
“Jy … I mean …” Sy bly stil en kyk deur hom.
Hy lyk erg verleë en trek sy skouers op.
“Ek wil myself asseblief voorstel – en ‘n kans hê om iets te verduidelik.”
Wat sy hoor is aksentlose, foutlose, gewone Afrikaans en iets ruik na verraad.
“Jy praat Afrikaans! Jy is nie Italiaans nie,” beskuldig sy skaamkwaad. Toe hy sy hand na haar uitsteek, beweeg sy weg.
“Asseblief, luister net eers dat ek kan verduidelik. Ek voel baie sleg oor alles, maar dit was net bedoel as ‘n grap.”
“Ek wil niks hoor nie, julle het my vir die gek gehou. Los my uit!”
“Magrieta, wag eers. Kom ons begin voor.” Sy wik tussen terugstorm en bly staan. Sy bly staan, met arms oor haar bors gevou en woedetrane wat haar oë brand.
“Ek is nie Allissandro nie. My naam is André Verster. Ek … ons het al baie gemaak asof ek Italiaans is omdat ek … half en half so lyk. Klara het gesê … Nee, ék het gesê dat … ag, alles kom verkeerd uit. Kan ons nie maar gaan sit nie?”
Sy gaan dit nie vir hom makliker maak nie; stap uit op die stoep en gaan sit op een van die plastiekstoele. Hy op die punt van ‘n ander. Hy bestudeer sy gevoude hande en soek na sy woorde op die stoep se vloer.
“Ek het jou lankal raakgesien en wou kennismaak. Dit was toe jy nog met Hendrik Wasserfall uitgegaan het en daarna het jy in jou swart klere rondgeloop. Klara het gesê ek kan maar vergeet – jy het jou ou lewendig verloor en jy verwerk nog die verlies. Toe, nou die dag het ek jou weer gesien en Klara sê dat sy dink jy is oor Hendrik en Peet-hulle oorreed my om weer Italiaans te speel. Dit was regtig net ‘n grap. Ek het nie gedink …”
“Ja, presies! Julle het nie gedink ek het nog gevoelens nie. En jy het jouself seker vol gate gelag en vir almal vertel van die onnosel gedoente wat jy uitgevat het. Kon jy nie net vir my sê hoe ek lyk nie? Weet jy hoe ek gevoel het toe ek in die spieël kyk?”
“Ek is jammer. Ek wou jou nie laat sleg voel nie. Ek was bang jy word kwaad vir my.” Hulle bly in stilte sit. Dan onthou se weer iets.
“En wat het jy gedink toe jy my vra om by jou te slaap? Wat se soort meisie dink jy is ek?”
Rooi slaan deur sy donker vel. “Eintlik het ek sléép bedoel – soos uitgaan. Dit het net anders uitgekom en toe ek agterkom jy verstaan verkeerd, toe terg ek maar verder. Ek slaap nie by meisies nie. Ek bedoel, ek slaap nie rond nie …”
Haar verrligting is groot, maar sy wys nie haar hand nie. Sy bly hardekwas.
“Goed, jy het verskoning gevra en ek gaan nou swot.”
“Nee, Magrieta, wag. Eintlik het ek iets kom vra. Gaan fliek saam met my, toe, asseblief? Ek wil probeer vergoed.”
“En wat laat jou dink ek wíl saam met jou gaan fliek?”
“Ummm, ek dink ons hou nogal van mekaar; ons gesels lekker; ons skree vir dieselfde provinsie en ons hou van baie dieselfde dinge.”
“Terloops,” sê sy, “staan jy altyd op jou kop as jy met meisies gesels?”
Dit bring hom egter nie van stryk nie.
“Net as sy bang is vir my.”
“Wie sê ek was bang vir jou?” vra sy verontwaardig.
“Jy het darem baie ver van my af gesit op die bankie.”
“Ek is net versigtig en ek raak nie familiêr met elke ou wat ek die eerste keer ontmoet nie,” verweer sy.
“In daardie geval sal ek weer op my kop vir jou staan,” sê hy en mik muur toe.
“Nee, net nie nou nie. Netnou sien iemand jou,” keer sy.
“Sê dan ja, jy sal saam met my gaan fliek, toe?”
Sy moet hom vergewe. Sy swart oë lyk te opreg en hy laat haar maag nog steeds fladder.
“Oukei, maar jy sal moet wag dat ek gaan aantrek.”
“Met plesier. En Magrietjie,” keer hy haar voor sy by die voordeur ingaan, “los maar die wimpers vanaand. Joune is baie mooier as die besemhare.”
“Daarmee sal jy my nooit weer sien nie, nie eers dood nie.”
Ronel©
1993 : Hersien 23/03/2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.