
Alfred en die gewraakte kaart
‘n Paar maande gelede het ek en Standardbank baklei opgetel oor ‘n kredietkaart wat hulle die krediet van “opgeskuif” het sonder dat ek daarvan bewus was.
Kom die einde van die maand dan gaan die bedrag wat ek gekoop het op die kaart direk van die besigheidsrekening af PLUS die krediet wat die bank reken ek die volgende maand nodig het. Nou ja, soos dit nou maar gaan was daardie maand se besigheid nie goed genoeg om alles te dek nie en die kaart is bietjie “siek”.
Ek is oppad Noord-Kaap toe om daar te gaan werk en ek baklei maar sommer so op die pad met Standardbank oor my nuwe “kredietstatus”. Ek weet ek moet brandstof ingooi, maar voordat ek daar kom knaag die hongerte en ek stop op Malmesbury by ‘n outobank en druk die kaart in om geld te trek. Tot my groot verbasing kan ek nie enige van my rekeninge met die kaart deur die outobank bereik nie en daar staan ek met my vinger in my neus! Ek het wel twee kredietkaarte, maar die barmhartige samaritaan wat ek is het my persoonlike kredietkaart by ‘n vriendin gaan los wat besig is om te skei en sy het nie genoeg fondse om haar kinders te versorg nie. Die oorsaak van haar tekort aan fondse is ‘n man wat R36 000-00 se netto inkomste het, maar vir haar drie kinders net R5000-00 se onderhoud betaal.
Nou ja, daar staan ek nog steeds met net ‘n paar Rand in my beursie en ‘n kaart wat veronderstel is om my verblyf, kos en brandstof te betaal vir die volgende drie dae se werk wat gedoen moet word in die Noord-Kaap. Omdraai kan ek nie, want ek het vandag ‘n wye draai gery vanaf Montagu Diep Kaap toe om alles te gaan aankoop en oplaai wat benodig word vir die volgende drie dae se werk in die Noord-Kaap. Om alles te kroon moet ek nog iewers vannag krane gaan aflewer by die polisiestasie in Nieuwoudtville wat ASLA more benodig om druktoetse op ‘n waterpyplyn te Loeriesfontein te doen.
Ek dink toe aan my wilde boetie Martin op Wellington wat darem nie verder as 50 kilometer van Malmesbury af is nie en bel hom. Ja, natuurlik Boetiegoed kom, maar ek is net besig om ‘n vinnige dop te drink, maar my mense werk nog ek moet vir hulle nog wegneem etes koop, maar kry my maar by my werkswinkel. Ek val in die pad en minder as ‘n halfuur later staan ek voor sy werkswinkel. Hy kom daar met ‘n vaart aan en bied my kontant aan. Ek wil net daar en dan vir hom geld oorplaas na sy rekening en hy keer my met: Man dis nou al na 8 uur in die aand so val eerder in die pad dat jy daar kom waar jy moet wees. Met ‘n hele drie duisend Rand in my beursie ry ek Noorde toe.
Lekker moeg en tam stop ek laataand op Klawer, want daar is darem ‘n Wimpie by die vulstasie. Wetende dat die kaart nie met die besigheidsrekening wil praat nie gee ek die kaart vir ‘n baie vriendelike Alfred wat my kom groet om brandstof in te gooi. Ek stap gou vinnig ‘n draai toilette toe en was hande en gesig om vars weer in die pad te val, maar nie sonder om by die Wimpie te stop nie. Nee, se die man ek kan nie sit nie, dit is nou al na-ure, hulle doen net wegneem etes. Ek moet maar daarmee tevrede wees en betaal met wilde boetie Martin se kontant en stap oor na Alfred toe om te kyk of die bakkie se tenk vol is.
Draf weer terug Wimpie toe en net toe ek die wegneem ete wil vat is Alfred met die kredietkaartmasjien by my. Die PIN meneer, se hy. Ek tik die PIN versigtig in en die groen PROCEED knoppie vol verwagting. Skelmpies beweeg ek uit en Alfred is agtena, ek gee hom die kredietkaartmasjien, want ek verwag nou die ergste. Nou ja, daar begin die masjien raas en druk ‘n TE kort papiertjie uit. Alfred kyk baie bekommerd op na my gesig, hy glimlag nie die keer nie. Hy se baie ontsteld: Die kaart hy DECLINE meneer! Ek se nee, kan nie wees nie Alfred, hy moet werk! Ons probeer weer, vol verwagting. Dieselfde gebeur, Alfred se nou baie bekommerd: Die kaart hy DECLINE weer meneer! Ek se nee Alfred, nou weet ek nie wat om te doen nie, hoe nou gemaak ek het nie genoeg kontant om jou te betaal nie en die kaart DECLINE. Alfred nou baie benoud: Aikona, meneer ek moet die geld he vir die petrol! Ek stap nou bakkie toe met ‘n baie bekommerde Alfred wat agter my aandraf. Ek se vir Alfred: Ek weet nou nie wat om te maak nie Alfred, ons moet nou die petrol maar uittap! Haou, se Alfred, nee meneer, ons kan nie dit doen nie, want waarin gaan ons die petrol gooi?
Ek besluit net daar en dan ek het Alfred nou genoeg geterg en ek krap in die beursie en haal die geld uit met ‘n baie verligte Alfred wat die geld by my neem en ‘n kontantstrokie by die kasregister gaan haal. Ek het Alfred darem ‘n mooi fooitjie gegee en die krane naby middernag afgelewer te Nieuwoudtville polisiestasie en toe deur gery Carnavon toe om saam met die hane wat kraai by Stephan en Sunelle Burger se huis in te sluip en so vir twee uur te slaap voordat ek weer opgestaan het om te begin werk na ‘n heerlike ontbyt!
Die kaart is soos die foto toon aan Standardbank ge-epos!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.