
Ballade: Deur God geseën
Ballade: Deur God geseën
in jou oë sien ek die hemel blink
en jou lag sê ons twee is oukei
al voel dit of die wêreld rondom ons sink
is ek nie bang nie, ek weet jy’s by my
en ek wil aan jou my liefde bely
hoër as die sterre, dieper as die see
so wyd dat jy nie die grense kan kry
en alles wil ek net vir jou gee
jy het jou hand gebied vir my
ek het my hart vir jou gegee
deur die jare het ons liefde gedy
die bande al sterker gesmee
warm rooi liefde wat ek vir jou skink
deur my eie hande gefles en berei
saam sal ek en jy daarin verdrink
saam sal ons ons in die lewe verbly
en as die son ons in mekaar se arms kry
lus vir die dag en ons dagtaak genee
tot in ewigheid hoort jy aan my sy
reisgenote met elke tree wat ons gee
in gelid met God wat ons lei
jy het jou hand gebied vir my
ek het my hart vir jou gegee
deur die jare het ons liefde gedy
die bande al sterker gesmee
wanneer ons oudag vir ons wink
en ons lewens is amper verby
sal ons net aan die mooi terugdink
sonder om eenmaal spyt te kry
liefde deur God se eie hand gebrei
ek en jy selfs op onbekende weë
net die dood sal ons twee kan skei
selfs dan ‘n versekering gegee
dat ons mekaar daarna weer sal kry
© – Barbara Smit 21/03/2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.