Titel: Binnelandskap
Deur Elisma
Binnelandskap
Dis 11 Junie 2022
die plaaswerf is spierwit vanoggend
en ek dink by myself, neewat
die seisoene is nog mooi in plek
al is aardverwarming op almal se lippe
en op hierdie koue wintersdag
moet ek groet, ons geliefde grond
hier waar my wederhelf se spore lê
hier waar ek geborge voel
nooit sou ek kon dink
dat hierdie dag sou kom
maar in die ryptrap van ‘n winterlandskap
diep binne my hart, is ek nou gereed
reg om myself te verplant
ons seun trap mooi in jou spore
jou nalatenskap groei in die lande
na ses winters begin die ryp al smelt
blink die dou in die oggendson
‘n nuwe seisoen wink vir my
net in tyd
mooi in plek
(c) Elisma van Zyl
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2022 Winterlandskap projek