
Boodskap versend.
“Suzie, hier is die inligting sodat jy presies kan weet wat ou Bottergat teen jou beplan. Ek heg ook sommer weer die formele klagstaat aan by hierdie boodskap. Soos ons gesels het, wil ek jou weer gerusstel om jou nie dood te bekommer nie. Jy weet mos ou Botter is meer bek as binnegoed, hy wil net goed lyk voor die nuwe prikkelpop wat hy aangestel het as sy nuwe assistente. Ek is seker Jenny gaan hom op baie ander gebiede ook assisteer! Sy is mos hoeka so beskikbaar as dit by mans kom! Lag!”
*
Klagstaat:
Geagte Suzaan Nel
Ek skryf om jou in te lig dat jy ‘n dissiplinêre verhoor moet bywoon op 5 Februarie 2023 om 10:00 vm. wat in ‘Die Spens’ se raadsaal gehou sal word.
By hierdie verhoor sal die kwessie van dissiplinêre stappe teen jou, ooreenkomstig die Maatskappy se Dissiplinêre Prosedure, oorweeg word met betrekking tot:
Diefstal of poging tot diefstal van kospakkies bedoel as geskenke vir kliënte.
Ek sluit die volgende dokumente in:
Bewys van kamera-opnames (foto’s).
Getuie gelewer deur kollega.
Die moontlike gevolge van hierdie vergadering kan wees:
Onmiddellike ontslag of kriminele aanklag van diefstal.
U is geregtig om, indien u wil, deur ‘n ander werkskollega of ‘n vakbondverteenwoordiger vergesel te word.
Die uwe
SA de Waal
Bestuurder
*
O ja – en onthou om op jou punt te staan! Ek is seker dat jy jou onskuld sal kan bewys as jy kan bewys dat die tien kospakkies wat jy in jou motor gaan sit het inderdaad vir die behoeftige gesinne in Vlaklaagte was.
*
Die horlosie teen die kantoormuur wys dit is amper naweek! Ek gryp my sak en sit alles bymekaar.
O ja! Ek moet nog die boodskap stuur om Suzie te waarsku oor die saak wat voorlê.
“STUUR”! Piieeeng, daar gaan hy! Nou kan sy haarself goed vergewis van die feite voor die dissiplinêre verhoor.
Gevul met afgryse staar ek na my foon in my hand! NEE! Dit kan nie wees nie! Die skerm bevestig dat my boodskap suksesvol versend is na: Sarel (Baas) wat net voor Suzie op my foon gestoor is. Ek druk die foon amper teen my gesig om seker te maak dat my oë nie ʼn truuk speel met my nie!
“Nee! Vee uit!”. Piieeeng – “boodskap gelees” flits voor my oë!
*
“Kom Lien, ek sluit jou vandag hier binne toe, dit is Vrydag jong”, ruk my kollega se stem my uit my eie skokwêreld uit.
Lien Meiring klim met bewende bene in haar motor, die skok sigbaar oor haar hele gelaat. Sy probeer dadelik vir Suzie bel om te vertel in wat se groot penarie sy haarself gekry het. Sy kry nie antwoord nie en probeer haarself kalmeer. Sy trek rukkerig weg en is so ingedagte dat sy amper binne-in ʼn ander voertuig vasry. Sy hou haar hande in soebat-gebaar voor haar gesig soos sy verskoning probeer maak aan die verskrikte man in die ander voertuig.
Gelukkig is dit naweek en sy het nog tyd om aan ʼn verduideliking te dink voor sy Maandag moet gaan werk.
Die spanning pomp soos donker wyn deur haar are en verskerp al haar sintuie. Sy val op die rusbank neer en bedek haar oë met haar hande.
“Hoe gaan ek dit aan my bestuurder verduidelik? Nou gaan hy boonop dink ons noem hom Bottergat agter sy rug! O hemel, ek word saam met Suzie afgedank!”
Die naweek sleep stadig verby en Maandagoggend voel dit vir Lien of sy na die leeu se hok toe gaan.
*
“Juffrou Meiring, Mnr. De Waal soek jou onmiddellik in sy kantoor! Weet nie wat met hom gebeur het oor die naweek nie, maar eerder jy as ek.”
Sy bewe onbedaarlik terwyl sout warm trane oor haar bleek wange stroom.
*
“Sit!” blaf hy die bevel uit, staan met sy rug na my.
Die gewig van die spanning is besig om my te versmoor!
“Juffrou Meiring, kan jy aan my verduidelik wat in jou kop aangegaan het toe jy, heel duidelik nie so bedoel nie, daardie boodskap Vrydagmiddag 16:55 na my toe gestuur het?”
“Ek – eee – ek kan verduidelik!”
“Ek wag! Praat!”
“Meneer, die saak staan so: Ek het daardie boodskap nie per abuis na u gestuur nie. My foon het op my lessenaar gelê en ek was in die voorraadkamer besig om die laaste kospakkies reg te kry.”
“WAT?! Wat bedoel jy: jy was nie by jou foon nie?”
“Dalk glo hy my!” flits deur my kop.
“Ja, ek was besig om daardie laaste kospakkies te tel voor die afleweringsdienste dit sou kom haal en in my haas het ek my foon op my lessenaar gelos.”
“Dink jy regtig ek moet jou glo?”
“Asseblief Meneer, ek sal nooit met so min respek van u praat nie, daarvoor het ek te ʼn hoë agting van u.”
Die harde trek op sy rooi gesig versag effens terwyl hy my stip aankyk.
“Nou hoe het daardie boodskap dan by my uitgekom?” vra hy met ʼn effens sagter stem as hy op sy stoel gaan sit.
Hy lyk skielik vir my baie moeg as hy half verdwaas oor sy grys hare vee.
“Ek wag nog dat jy aan my ʼn aanvaarbare verklaring gee, Lien.”
“Hmm, ja wel, ek is ook nie seker hoe hierdie hele onsmaaklike gebeurtenis plaasgevind het nie, maar ek dink dat die nuwe assistent my dalk ʼn poets wou bak. Vandat sy hier begin het, het sy my lewe ondraaglik gemaak. Elke opdrag wat ek vir haar gee, bevraagteken sy en is veral jaloers op die verhouding tussen my en Suzie. Ek het ʼn boodskap begin tik, maar moes toe dringend na die voorraadkamer gaan en het my foon op my lessenaar gelos. Toe ek terugkom het ek ‘STUUR’ gedruk sonder om weer die boodskap deur te lees. Ek het nie besef dat ek dit na u stuur tot ek dit klaar gedoen het nie. Toe ek sien dat die boodskap aan u gestuur is, het ek dit oopgemaak en toe sien ek dat dit beslis nie die boodskap is wat ek getik het nie! Meneer moet my glo, asseblief, u ken my?”
“En jy sê dat daardie kospakkies wat die nuwe assistent aangemeld het as weg, nie werklik weggeraak het nie?
“Meneer, ek het daardie middag self saam met Suzie gery om die pakkies te gaan afgee by die gesinne in Vlaklaagte.”
“En is dit regtig wat julle my agter my rug noem: “Ou bottergat?”
“Ons het hopeloos te veel respek vir u, sal nooit so van meneer praat nie!”
ʼn Sug ontsnap uit sy lippe as hy stip na my kyk.
“Jy is verskoon Lien, stuur asseblief vir Jenny na my kantoor toe, DADELIK!”
“By ‘Die Spens’ is daar nie plek vir agterbakse mense nie!”
ʼn Breë glimlag sprei oor haar gesig as sy vir Jenny meedeel dat sy kantoor toe moet gaan.
©Marlene Erasmus
29/01/2023
1144 woorde
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.