Jongste aktiwiteit:

Busboikot en burgerregte.

Busboikot en burgerregte.

Op 4 Februarie 1913 word Rosa Parks gebore as Rosa Louise McCauley in Tuskegee, Alabama. Sy is James en Leona Edwards McCauley se eersteling en het later ʼn broer gekry – Sylvester. Haar ma was ʼn onderwyseres en haar pa ʼn skrynwerker van beroep.

Na haar ouers se egskeiding het sy en haar broer saam met haar ma verhuis na Pine Level, ʼn klein plattelandse dorpie naby Montgomery. Hier bring sy haar kinderjare deur. Sy voltooi haar laerskoolloopbaan as elfjarige.

As klein dogtertjie het sy reeds besef dat daar onderskeid getref word tussen wit en swart kinders toe net die wit kinders op die busse vervoer is.

Haar ma stuur haar na Montgomery se Industriële skool vir meisies, waarna sy Alabama Staatsonderwys Kollege toe is. Terwyl sy hier is, word haar ouma siek en is Rosa terug om met haar versorging te help tot met haar afsterwe. Rosa was net gereed om terug te gaan toe haar ma ook siek word. Sy moes haar opleiding staak.

In 1932 trou Rosa met Raymond Parks, ʼn kapper van beroep. Met Raymond se aanmoediging voltooi sy haar opleiding en raak betrokke by die ‘National Association for the Advancement of Coloured People’ – NAACP. Raymond was ʼn aktiewe lid en Rosa het gewerk as sekretaresse en was later ook die jeugleier.

In hierdie tyd was Alabama bekend vir baie streng segregasiewette. Daar was aparte geriewe en skole vir Afro-Amerikaners en blankes. So ook was daar aparte sitplekke op die openbare busse. Die eerste rye was net vir die blankes en die Afro-Amerikaners was gedwing om agter in die bus te ry, al het almal dieselfde fooi betaal.

Op 1 Desember 1955 klim ʼn moeë Rosa op die bus en neem haar sitplek in, in die ry reg agter die banke wat vir die blankes gereserveerd is. Daar klim toe nog blanke passasiers op en die onbeskofte James Blake, busbestuurder beveel Rosa om op te staan. Twee of drie staan op, maar Rosa weier om op te staan. Die busbestuurder laat arresteer Rosa net daar.

Op pad tronk toe het die nuus oor Rosa soos ʼn veldbrand versprei. ED Nixon, ʼn vriend en die president van die NAACP nader Rosa om ʼn saak te maak teen die busonderneming.

Hierdie daad het die Montgomery-busboikot van 381 dae tot gevolg gehad. Die busboikot is beëindig met die beslissing dat die segregasiewette in Alabama ongrondwetlik was.

In 1996 was sy die ontvanger van die Presidensiële Medalje van vryheid en in 1999 die Kongres-goue medalje, en nog baie ander toekennings.

Op 24 Oktober 2005 sterf Rosa vreedsaam soos die stil voorbeeld van haar lewe.

©Marlene Erasmus
30/04/2022

(448 woorde)

Bronne:
https://af.wikipedia.org/wiki/Rosa_Parks
https://www.history.com/topics/black-history/rosa-parks
https://www.nps.gov/features/malu/feat0002/wof/rosa_parks.htm




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed