By gebrek aan water
O, Here, stuur vir ons die reën
ons aarde, sy is droog
sy ly gebrek aan water
haar fontein is bar van oog
haar rivier, die wil nie vloei nie
haar dam loop haas al leeg
haar vlei het skaars ‘n druppel oor
hoe sal ‘n boklam dan tog teug
*
die Karoo het darem reën gehad
ek hoor die Tankwa het geblom
die wagter met sy kudde skaap
het oor die rante aangekom
*
maar elders kraak haar kleikors
en dors ‘n rietbos tot die dood
langs vore waar eens water was
kwyn groen lelies in ‘n sloot
stuur vir ons die reën, o, Heer
ons aarde’s dor en sy is droog
hoe smag sy nou na lafenis
en na verlossing van omhoog
stort oor haar U seëning uit
laat dit in strome oor haar giet
en span ‘n boog in sewe kleure
oor haar dankb’re grondgebied
© C. Shaw
5 Oktober 2015
4 Kommentare
-
-
Kiekies
Hierdie opregte en onopgesmukte gebed is so pragtig en eerlik en wil eintlik kniel terwy ek lees.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
wow.. SALUUT!!!!