By Potberg het ‘n Elandkoei gevrek
tussen die vaal en grys van rotse
in skeure vasgevang
teen die helling van die berg
al langs die skuinste van die hang –
dis daar waar Leucadendrons groei
en Mimetes blaar in pienk-rooi bloei
en hoog aloor in sirkelvlug
op wind wat stroom en warm lug
sal witrûe ewig swewedans
bo die steiltes daar by Potbergkrans
pers gekroon, met lila lip
blom Lachenalia
in die sand, neffens klip
en plaat oor berg se voet en dal
waar die eerste son in die môre val
en nét daar
het ‘n elandkoei gevrek
op so ‘n mooi en vreedsaam plek
en langs ‘n restio, voor ‘n suikerbos
haar verbleikte beend’re as bewys gelos
by Potberg –
waar Leucadendrons tol in bottergeel
en Mimetes blaar met die rooi kleur speel
tussen die vaal en grys van rotse
in skeure vasgevang
teen die helling van die berg
al langs die skuinste van die hang
© C. Shaw
15 Julie 2015
4 Kommentare
-
Anze
soos Kiekies se.. hierdie bly n treffer!
-
neels
Ek ken Carma se werke al so goed as ek die titel sien weet ek... nog n puik werk van een van my gunstelinge
-
inkvink
Lekker om weer jou werk te lees. Jy weet net hoe om woorde te gebruik om te bekoor. Mal oor die gedig. pers gekroon, met lila lip blom Lachenalia in die sand, neffens klip en plaat oor berg se voet en dal waar die eerste son in die môre val Dis die mooiste ...
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Bly maar 'n pragtige gedig vol simboliek!!