Jongste aktiwiteit:

Deur God geverf!

Oktobermaand se kenmerkende kleure is oral in my tuin.
Die kleur van kappertjies. Van Pampoen tot piesang.
Die kleur van Malvas. Van kersie tot waatlemoen.
Die kleur van Christus-doring en Laventel. Van bloed tot purper.

Met die somer wat op pad is, wil ek sommer die riel dans, in afwagting. Of die Can-can, maar o wee, hulle rokkies is te kort.
Of wals op Strauss se Blou Donau. Sweef en draai. Vol nuwe energie, nuwe moed, nuwe drome.

Maar dis die herfs hier tussen die berge en die wingerde, wat my laat klein voel teenoor die Grootsheid. En tog ook laat kolosaal voel, want dis alles geskape vir my om te geniet.
Dis die herfs wat my laat stilstaan in oopmond-verwondering en bewondering.
Wat my stilmaak in sprakeloosheid, want woorde skiet tekort om dit te beskryf.

‘n Fees vir die oog,
‘n lushof uit God se eie hande.
Die Boland in die herfs, met al sy skakerings kleur.
Geel. Van botter tot sonneblom.
Oranje. Van vlam tot roes.
Rooi. Van rissie tot eiervrug en druif.
Groen. Van lemmetjie tot avokado.
En bruin. Van topaas tot koffieboon en tieroog.
Die berge blou en pers.
Die hemelruim is waterig blou
en die wolke pof soos springmielies, sneeuwit.
Hier en daar hang wasige gordyne oor die tapisserie.
Herfs is baldadig en sedig tegelyk.

Alles, maar alles, ieder, elke greintjie en elke korreltjie, deur God self geverf.




Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed