„Die Film MEDITERRANEA Refugees welcome
Die Film MEDITERRANEA Refugees welcome
„In hierdie intensiewe drama skilder die regissieur Jonas Carpignano [sê karpi-njano] in half-dokumentariese styl die noodlot van twee vlugtelinge wat uit Afrika na Europa kom en met die alledaagse rassisme konfronteer word.” So skryf Michael Meyns in FILMSTARTS. Hy sê verder dat Carpignano in sy werk die prinsiepe „Waaragtigheid en Egtheid” volg. Die gebeurtenis(se) waarop hierdie verhaal baseer, het vyf jare vóór hierdie film, in 2010, in Carpignano se tuisstad plaasgevind. Hy het dit aanskynend self beleef en het reeds dokumentêrfilms daaroor gedraai.
☼
[MEDITERRANEA, Refugees welcome; 2015; regie, Jonas Carpignano, met Koudous Seihon, Alassane Sy, Adam Gnegne, Analisa Pagano, Davide Schiipilliti, Vincenzina Siciliano, Pio Amato; It, Fr, VSA, De, Katar; 110 min.]
☼
Oor vriende-van-vriende maak Ayiva en sy beste vriend („broer”) Abas kontak met ‘n smokkelring en verlaat Burkina Faso op ‘n gevaarlike reis deur die Sahara tot aan die kus van die Middellandse See, waar hulle in ‘n boot klim wat eintlik glad nie seevaardig is nie, oorvol daartoe. Dit kos heelwat krag, maar hulle land dóg in Italië. Daar aangekom moes hulle ervaar dat die lewe van swartmense in Italië anders is as die heerlike hemel-op-aarde prent wat hul vriend geskilder het.
Ek het gelees dat die film juis die gebeurtenisse van 2010 in die stad Rosarno as agtergrond het, dat dit die onrus-toestand beskryf en ontleed. Alle daarstellers in die film is self immigrante wat in die omgewing woon, wie se beleefnisse in die film opgeneem is.
Die film het ‘n eerste en ‘n tweede helfte: Die reis deur die woestyn — met die oneerlikheid van die smokkelbande, die gevaar dat ander bandes die „buit” wil steel – dan oor die Middellandse See tot waar die boot kort voor die europese kus kenter. „Vir my was dit belangrik om die toeskouers op die reis saam te neem,” sê Carpignano nadat hy die verhaal van sy hoofdaarsteller Koudous Seihon [sê koedoes] gehoor het. Die tweede helfte behandel die lewe van ‘n „geduldete” asielant wat so te sê geen regte het nie – hy mag nie werk (en geld verdien om hom self te onderhou) nie. . . Eintlik moet hy onsigbaar wees. Hy moet verdwyn. Die beste is, hy gaan terug huistoe. . . Hy en sy vriend probeer kop-oor-water te hou met klein-kriminaliteit – Hy loop deur die gang van ‘n trein op die stasie, gryp ‘n tas naby die deur en spring van die trein af kort voor hy wil wegry: Warm klere vir die winter! Hulle werk by die lemoenoes en kry ‘n ekstrawerkie op die naweek en kry weggooigoed van die witmense as beloning, maar nie geld nie. En wat hy eintlik wil hê, is geld om elektroniese speelgoed (playstation, ens) vir sy dogtertjie by die huis in ‘n kraal in die woestyn. . .
Die onrusopnames is deurspik met kort snitte uit die nuusfilms van 2010. Op die ou ent (van die fliek) wil Abas weer terug huistoe maar Ayiva wil bly, want hy het geleer hoe hy sy mense by die huis tog met „kultuurgoed” kan versorg.
‘n Interessante film met etlike infos oor hoe mense wat ons leefwyse aangepranger het, nog erger met vreemde mense omgaan, wat hulle waarlik soos wilde diere behandel en geen benul het van hul eie hoë ideale van demokrasie en sulke goed nie. Maar ‘n speelfilm? Aikona.
As ek die film nie gesien het nie, sou ek dit ook nie nou vermis nie.
©12e.Februarie2017…….c]:o(٤.(o;[>………………………………tje
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.