
Die geveg vir moedertaalonderrig.
Die geveg vir moedertaalonderrig.
As jy vertroud is met die nuus van die afgelope tyd, sal jy vind dat Afrikaans dikwels die onderwerp van bespreking is.
Verskeie instansies soos Die Afrikaanse Taalraad (ATR) en burgerregte-organisasies soos AfriForum en die DAK Netwerk is in ʼn verbete stryd gewikkel om Afrikaans se belange te beskerm. (DAK se naam verwys na drie taalvaardige Khoi-leiers wat simbolies is van ons herkoms en erfenis: Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa.) Hulle geveg is om Afrikaans se voortbestaan as onderrigmedium te waarborg en die saak word dikwels in hofsake aangevoer.
Op 21 Februarie word Internasionale Moedertaaldag gevier. UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) het juis die dag ingestel sodat mense regoor die wêreld bewus kan word oor die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig. Unesco ondersteun die belangrike feit dat kultuur en erfenis vir ons nageslag bewaar moet word.
Op Litnet is die stelling gemaak: “Afrikaans, eens uitgekryt as ‘n kombuistaal, is vandag ‘n wêreldtaal. ʼn Taal van onderwys, wetenskap en ekonomie.” Intensiewe navorsing nasionaal sowel as internasionaal oor die voor- en nadele steun ook die erns van onderrig in die leerder se taal.
Moedertaalonderrig is beslis die onderwerp waaroor daar reg oor die wêreld navorsing gedoen word.
UNESCO het navorsingsprogramme van stapel gestuur om die saak deeglik te ondersoek. Telkens was die bevinding presies dieselfde: moedertaalonderrig is net eenvoudig die beste! Hulle staaf die stelling met onteenseglike getuienisse vir die voordele van moedertaalonderrig.
Moedertaalonderrig verseker die uitbreiding van kennis met begrip en is ook voordelig vir kognitiewe ontwikkeling en sosiale vaardighede. Die kennis wat leerders moet versamel is egter nie so ʼn eenvoudige proses nie. Daar moet effektiewe interaksie plaasvind tussen die leerkrag en leerling. Hiervoor word daar doeltreffende kommunikasie vereis. Die primêre kerngedagte vir kommunikasie is taal. Dit is bewys dat leerders vinniger verstaan en hulle kommunikeer ook beter in hul moedertaal.
Theo du Plessis, professor by die Eenheid van Taalfasilitering en –bemagtiging aan die Universiteit van die Vrystaat het gesê: “Moedertaal is jou sleutel tot uitnemendheid en om onderrig te ontvang in jou moedertaal, laat jou uitstyg bo die gemiddelde en gee jou die vermoë om saam te praat met die bestes in die wêreld.”
Afriforum Jeug, ʼn nie-politieke burgerregte-organisasie veg ook vir die behoud en voortbestaan van Afrikaans as moedertaalonderrig. Die groep is in die lewe geroep en hulle beywer hulle vir die belange van jong Afrikaners. Hulle het ʼn memorandum aan professor Dan Kgwadi, visekanselier van die Noorwes-Universiteit oorhandig met ʼn versoek om Afrikaans as onderrigmedium aan die Puk te kan behou.
Marcus Pawson, AfriForum Jeug se verteenwoordiger is hier aan die woord: “Niemand gaan namens ons besluite neem oor Afrikaans en Afrikaner-studente by die Puk nie. Ons sal vir onsself praat oor sake wat vir ons belangrik is. Ons wil in Afrikaans leer, leef en ontwikkel”
Afrikaans as die taal van onderrig word egter die teiken van vele aanslae met ʼn kommunistiese agenda.
CF Visser het jare gelede geskryf:
O moedertaal,
O soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Van al die tale wat ek hoor,
Niks wat my siel ooit so bekoor.
O moedertaal,
O soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Hierdie eenvoudige vers van lank gelede laat my met die vraag: Waar staan ons vandag met die taalkwessie en ons begrip van moedertaalonderrig?
As jy wel bekommerd is oor die aanleer van ʼn ander taal hoef jy nie verder daaroor te tob nie.
Taalkenners is van mening: ‘Language is caught, not taught.’ ʼn Kind se brein is so vormbaar en dit gee aan jong leerders ʼn groot voordeel om taalkodes uit hul onmiddellike omgewing te kan hanteer.
Wêreldwyd sal jy vind dat suksesvolle onderwysstelsels hand-aan-hand gaan met onderrig in die leerders se moedertaal.
©Marlene Erasmus
30/07/2022
(617 woorde)
Bronne:
afrikaans.com/2018/02/22/moedertaalonderrig-meertaligheid-of-nie/
litnet.co.za/repliek-op-die-debat-oor-moedertaalonderrig-binne-die-suid-afrikaanse-onderwysstelsel/
afriforum.co.za/ouers-studente-en-kind
2 Kommentare
-
Von Villon
Die taalvegters is helde. Ongelooflik hoe daar geen elektroniese HAT of WAT beskikbaar is sonder 'n jaarlikse fooi nie; beskerming van belange lyk maar na 'n duur stryd.😫
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2022 Wat skryf ek?