Die lewe gaan aan
Die as bly draai, die son gaan slaap
net om more weer gelukkig sy opwagting te maak
Die maan – wat elke dag die son na-aap
en lui-lui elke nag deur die hemelruim kraak
So werk dit nog altyd, so is dit dan nou
die lewe gaan aan – sy eie gang
Waag dit om aan die verlede te klou
Dan staan jy alleen en soms ook bang
Dis nie altyd net so wit en swart en rooi
soos ons gedwing word om te glo dit moet wees
soms is dit kleurvol of dof of net mooi
Soms het wonde en letsels tyd nodig om te genees
Die Skepper bepaal waar en wanneer die strepie stop
Hy weet wat Hy doen, waarom, met wie
Maar die dag as daardie hammer kom val op my kop
Is dit my storie en nie almal se plek vir opinies nie
Onthou net, my pyn, my seer en alles wat met my gebeur
dis my padjie, my handleiding, my padkaart
Dis nie vir jou om my lewe uit mekaar te kom skeur
of om my pyn joune te maak in volle vaart
Hierdie keer verstaan ons self nie regtig hoe
wanneer, waarom en hoekom met ons
Maar ons vertrou en ons laat die Vader toe
om Sy storie deur ons mure te laat bons
Verlies is aaklig, dit kom in alle vorms deur
maar ons weet hierdie pyn is net tydelik so rou
Hoewel dit ons drome uitmekaar kon skeur
was ons regtig so baie lief vir jou!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.