Die skadukant van donker.
Die skadukant van donker.
Lien Meiring, die suksesvolle prokureur se naam was op baie mense se lippe. Sy was die toonbeeld van ‘n suksesvolle vrou. Wat almal nie geweet het nie, sy het ‘n groot struikelblok in haar lewe gehad. ‘n Verskriklike vrees vir die donker.
Lien het van kleintyd af ‘n erg ongemaklike verhouding met die donker gehad. As die skemer gedaal het en die lang skadu’s begin inkruip het, het haar hartklop versnel. Sodra sy in ‘n vertrek ingestap het, het haar oë onmiddellik die skakelaar gesoek. Die oomblik as sy die ligte aangeskakel het, het sy effens ontspan.
Die groot probleem was dat Lien glad nie kon slaap in die donker nie. Drogbeelde geklee in donker het haar denke oorheers. Dit was nie die afwesigheid van lig nie, dit was die onbekende, onsigbare dinge wat haar in vrees laat lewe het.
Een koue wintersaand in Julie, het die wind erger as gewoonlik om die hoeke van die huis gehuil. Die maan het flouerig deur die wolke geskyn. Daardie aand het Lien besluit dat sy genoeg gehad het van die dolos in haar lewe. Sy kon net nie langer so aangaan nie. Sy het besluit om die ding genaamd DONKER te trotseer. Sy sou die geheime van haar vrees ontrafel.
Sy het na die boekrak in die hoek van die kamer gestap en haar ouma se ou dagboek oopgemaak. Die effens vergeelde blaaie was so toe onder die stof dat sy in ‘n niesbui uitgebars het. Die blaaie was bros en gekreukel en plek-plek het die ink al vervaag, maar die woorde was nog leesbaar. Haar oë het vasgebrand op die inskrywing waar haar ouma oor Dolos geskryf het. Ouma Lilly het ‘n lang inskrywing gemaak oor die verskriklike entiteit met die naam Dolos. Lien het gou agtergekom dat dit nie ‘n mens was waarvan haar ouma geskryf het nie, maar eerder ‘n skaduwee wat in die donker ronddwaal om mense se vreugde te steel. Haar ouma het ‘n waarskuwing neergepen dat as jy eenmaal vir Dolos sien, daar geen bevryding is nie!
Lien het doodstil gesit en haar ouma se woorde oor en oor gelees. Sy het besef dat sy nie meer langer kon wegkruip vir die donker nie. Sy moes doodeenvoudig die donker in die oë staar en die gevaar trotseer. Net daar het sy ‘n plan gemaak: sy sou Dolos inwag en hom dan konfronteer.
Die volgende aand het Lien vasberade die flits geneem en dit tussen haar bewende hande vasgeklem waar sy op haar wiegstoel gesit het onder haar verekombers. Sy het gewag en gewag, elke oomblik gereed vir die verskyning. Sy het geen teken van Dolos gewaar nie.
Toe sy uiteindelik in haar bed ingesluimer het, het sy die flits langs haar laat lê. Sy het wakker geskrik toe ‘n skaduwee oor haar geval het. Daar was hy: Dolos, ‘n lang, maer figuur sonder ‘n kop. Haar hart het woes in haar borskas geklop. Sy het die flitslig gegryp en op hom geskyn. Sy vorm het effens vervaag toe sy op hom skree.
“Ek weet wie jy is!”
Haar stem het gebewe toe sy vir hom sê: “Ek is nie meer bang vir die donker nie!”
Sy het die woorde oor en oor herhaal en keer op keer vir hom geskree totdat sy skaduwee heeltemal verdwyn het. Sy het besef dat sy haar vrees oorwin het, dat sy nie langer ‘n slaaf van haar eie fobie sou wees nie.
Die volgende oggend word sy wakker toe die son warm deur die venster skyn. Sy het opgestaan en weer die dagboek in haar hande geneem Sy het ‘n nuwe inskrywing gemaak:
“Ek, Lien Meiring het die donker oorwin! Ek het die skaduwee Dolos in my lewe gekonfronteer en hom laat verdwyn. Ek is NIE meer bang NIE.”
Sy het geglimlag, die dagboek toegemaak en dit op die rak teruggeplaas. Die skakelaar van die ligte het sy nie meer nodig gehad nie. Sy het die geheim van die donker uitgepluis en die aaklige Dolos finaal oorwin.
So het Lien ‘n heldin geword, nie net vir haarself nie, maar vir almal wat met hulle eie donker in hul lewens gestry het. Sy het geleer dat die lig binne haarself skyn en dat sy alles kan oorkom as sy moedig genoeg is om die skaduwees in die oë te kyk.
©MarleneErasmus
29/02/2024
(719 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Februarie 2024 - Dolos projek