Dis ʼn wilsbesluit
(Silwer, 771 woorde)
So saam met die besluit om te verhuis het mense se ongevraagde opinies ook ingestroom. Selfs om met voormalige Gautengers in die nuwe stad kennis te maak, is nie ontneem van waarskuwings en slegte voorspellings nie. Dit is nogal interessant om ander se menings oor enige vorm van verandering te hoor, en ongelukkig is dit selde positief. Hulle bring net hul eie slegte ondervinding en bied dit dan as die evangelie aan. Net hier en daar sou iemand waag om te vertel dat ons baie lekker hier sal woon.
“Oh, ek hoor julle trek na Gqeberha? Die wind waai ALTYD daar, dis nie ʼn lekker plek om te bly nie.” Nee, die wind waai toe nie ALTYD daar nie. Dit waai miskien meer as in Gauteng, en ek het al gedink dat die lelike ou wolf ons huisie se dak in sy *aai in gaan waai, maar daar is ook heerlike stil dae.
“Dit gaan jou drie jaar neem om aan die weer gewoond te raak.” Werklik?? Die dag toe ons besluit het om hierheen te verhuis, het ek klaar besluit dat die weer (en die wind) nie ʼn probleem gaan wees nie. Dus, my kop het ses maande vooruit klaar besluit dat ons lekker gaan bly. As die wind waai en jy hou nie daarvan nie, bly tuis. Sit voor jou TV en mor oor die wind en weer. Dit mag dalk nie die dag wees waarop mens strand toe gaan nie, tensy jou bene ʼn bietjie ‘sandblasting’ nodig het, maar andersins is daar meer as genoeg lieflike dae om in die son en water te baljaar. Praat ook asseblief elke dag oor die “snaakse” weer, so al asof iemand dit kan verander. En ek is baie seker dis nie die enigste plek in die land wat ʼn paar verskillende seisoene in een 24uur kan beleef nie.
“Jy gaan so baie goed mis, soos die keuse van winkels.” Met Gauteng se dorpe wat byna moeiteloos van die een na die ander oorspoel, is daar natuurlik winkels by die miljoene. Wat mens nie in een plek kan kry nie, is volop by die volgende dorp s’n. En ja, hierdie is wel ʼn werklikheid. Maar wat doen mens dan? Jy probeer ʼn alternatief en maak die beste van die saak. Of jy raak kreatief en skep jou eie produk. Dit is goed om daardie grysstof aan die bokant van jou nek bietjie te rek.
“Jy gaan al die hospitale/dokters/apteke mis.” Welllll, ek het nog nie daarby uitgekom nie. Genadiglik het ek nog nooit ʼn passie vir hospitale en dokters gehad nie, dus weet ek nie of ek dit gaan mis nie. Wat mens nie weet nie, treur die hart mos nie oor nie. En weet jy wat? Daar is NOOIT ʼn lang ry in Dischem nie. Nooit nie, en is dit dan nie te lekker nie?
“Jy gaan nie die verkeer mis nie.” Wel, dit was ʼn raakskoot! Ook nie die huis- en motor alarms wat onophoudelik deur die nagtelike ure skree nie. En verseker ook nie die vele ambulans- en polisie sirenes nie. Ook nie brullende motorfietse wat Sondae voor sonop ʼn renbaan van die strate maak nie. Hier, weg van die stad se lawaai, slaap die mense blykbaar ongestoord en net nou en dan kan mens ʼn donkie in die verte hoor balk as sy maat hom in die sy geskop het.
Hier is oop ruimtes en bome, bome, bome en dit voel asof mens kan vryer kan asemhaal. Ons is meer ontspanne hier aan die onderkant van die land want ons is minder kwesbaar vir die ewige polsende asemhaling van die Oos-Rand. Dit is asof alles daar lewe en onbewustelik jaag dit ook jou hartklop onnodiglik op.
Dit waaraan mens heeltyd dink, word jou realiteit. Dus, waarop fokus ons? Die negatiewe, of sien jy darem ook die ander goed raak? Die gratis goed wat nie by die winkels gekoop kan word nie, en wat ʼn groter invloed op mens se gesondheid het as wat jy mag besef. Ons kan wel ʼn botteltjie seesand in ʼn geskenk winkeltjie koop, of iemand vra om ʼn koeldrankbottel vol seewater saam te bring, maar dit is geen plaasvervanger van die genot om jou tone diep in die koel sand te druk nie. Jy kan al die verskillende kleure blomme in ʼn boek pars of selfs op ʼn doek verf, maar dit is nie dieselfde as om plate blomme met jou eie oë te aanskou nie. Jou hartjie bly leeg en verlang na iets wat nie ʼn naam het nie, totdat jy dit ontdek en weet dat daar nie ʼn beter plek is nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2021 – OOP projek