Dissosiasie
My ma is in ‘n thermofan
in foelie toegedraai,
haar kop en arm vry –
die res ‘n take away.
Oondliggies flikker en piep skel,
termostate word verstel.
Sy is lankal aan die skroei,
terwyl sy binne bloei,
maar word steeds pal bedruip –
‘n oondpan vol geswel.
Eers het sy gekook in ‘n kastrol
vir ure lank aaneen – alleen –
want vir ‘n regte braai-paai
moet vleis kan loskom van die been.
Maar nog was dit nie klaar –
sy moet nou bietjie grill,
medium rare tot erg gaar
by die eetplek in die Mall.
Ek vee my rubberhand
versigtig oor haar vel,
praat saggies by haar oor
al wil ek besete, dit helemal verloor!
My ma is onder blinkpapier,
Ek’s in ‘n chef se overall.
Ek wonder of sy deur die maskerlap
my hierdie slag kan hoor…
© Charleine Collins 31 Desember 2018
(Pretoria-Oos Hoësorg Brandeenheid 2005)
Madeleine Collins (Engelbrecht) Cronjé (31 Desember 1933-25 Augustus 2005)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.