Donker Rivier (pastiche met Diep Rivier geskryf deur Jan F.E. Celliers)
in jou donker rivier versteek my diepste stroom
vir jare kon my hart net oor jou droom
maar jou liefde het my in weëmoed laat kniel
-toe jou valse omhelsing my siel verniel
die vlam van jou donker rivier het my geskroei –
terwyl die verlange deur my gees bly vloei
die glans van jou klatergoud het my liefde afgekoel
soos die gedruis van jou koue verraad oor my spoel
rus jou fluistering nou sag in my hart, ek kan weer droom
want jou donker rivier vertak uit my diepste stroom
©Jessica Venter
21/02/2020
X x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x x
Diep Rivier
O, Diep Rivier, O Donker Stroom,
Hoe lank het ek gewag, hoe lank gedroom,
Die lem van liefde wroegend in my hart?
-In jou omhelsing eindig al my smart;
Blut uit, O Diep Rivier, die vlam van haat; –
Die groot verlange wat my nooit verlaat.
Ek sien van ver die glans van staal en goud,
Ek hoor die sag gedruis van waters diep en koud;
Ek hoor jou stem as fluistering in ‘n droom,
Kom snel, O Diep Rivier, O Donker Stroom.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.