Eerste reëns
tussen platgetrapte grensdrade staan gousblomme
met blomkelke na die hemel gelig
jou spore oral rondom my op die voetpad gerig
eien ek tussen rommel en as
kleinode wat jou so volmaak in my skede kon maak pas;
betrokke wolke teen die oosterkim
omlyn jou silhoeët teen skouerblaaie van my haaimat –
waar ribbebeen en dolos kletter in die talisman se hand
soos toorgoed se binnegoed in rooisand land;
toe bliksems riel tussen telefoondrade
en druppels plof op voorbereide aarde
ruik ek jou lyf in dorstige grond,
versteek ek ons vergeelde kiekie in my linnebroek se sak
voor ek koers kies in die rigting van reën.
© Almarie Truter
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
jou gedigte skilder altyd die mooiste skilderye.. pragtig gepen!