EKKE EN DAAI GESLOTE DAMESKORPORASIE
EKKE EN DAAI BESLOTE DAMESKORPORASIE
Liewe Bokkie my babie, nê; ‘n handvol en nog so tiekie vir ‘n bietjie se sandval deur die uurglas, het ek gevryskut vir ‘n koerant. Enne so besluit my simpel blêrrie redakteur dat ekke nou moet gaan verslag doen oor die een of ander heilige, high society Christen Dames Konferensie; ê ja, toemaar, ek weet wat jy dink😋😇
Ewrntewille, so breek Woensdagoggend aan en…. Die prentjie ingekleur – gemaskara en gelipstiek; amen. Ja-nee kyk, ek en ‘n volskaalse ge-oorlogsverf aankleur is nou maar eenmaal nie so ‘n goeie kombinasie soos Gucci en Ray Ban nie. Wanneer dit by inkleur kom, wel; dan verkies ek’n rêrige-êrig inkleuroek. ‘n Lekker dikke! Propvol kammalielie droomprente. Klompe vetkryte. ‘n Onthoublikkie vol kleurpotlode; langes.
En kortes. Ek kleur nou nog in, jy weet mos – insanity keeps me sane; ‘n geelbruin meerkat met ‘n spierewit bors en ‘n cheeky smile. ‘n Woestegroen padda. Ek sê steeds daai paddaprinstorie kan mens nie eers met ‘n towestaf, ‘n koninginsepter of al die faikonta in die hele wêreld regverdig nie. Is!….. ‘n Rooi vliegtuigie met ‘n Spitfire houding en ‘n bloustreep dwarsdeur sy vlerk. Die bonterste bont van ‘n vrolike clownglimlag met sy onordelike, oranje hare. Send in the clowns; die bloedrooi, wye glimlag van verf.
Soos wat jy duidelik kan sien (al weet jy dit reeds lankal) raas my hart se kop so ligweg. My voetspore lê ‘n klomp afdraaipaaie se handbreetes vol, en ek kan dit honor bright nie gekeer kry nie. Daar’s so baie goeters wat sy wil voel. Voel tot die bloed loop. Sommer. Cause why…. Cause why-uhmm omdat en oordat…… Kameelperde broei uit eiers uit en ‘n ladybug het kolle oordat Liewe Jesus se strepe opgeraak het…. Where are the clowns?
There ought to be clowns….. Oukay.
Die Woensdag se Genesis was als goed en wel en volgens ‘n ordelike plan. Selfs ek het die eerste skeutjie se minute (hou op lag, ‘n engeltjie gaan op jou tong kom piepie, blêrrie simpel meisiekind) feitlik ordentlik in die milieu ingesmelt. Die properliese Koningin van Koel, al haat ek sulke generiese gewydheid. Honor bright. Stemmig. Statig. Aantekeninge gemaak en als.
Aaag, toe nou, snip – drie om presies te wees…. Nou? Dis mos meer as twee; whê.
Daai anties (skuusie, dames) was angswekkend gemoraliseer. Enne ja… Op ‘n punt van wankelende orde. Mevrou (sjuut)….. Mevrou was al goed opdreef met haar geestesveryking en het toe net ‘n deurlugtige (nee, man, hoe moet ek dit nou weet wat dit beteken; sjuut nou) apofiegma (‘n sedespreuk, pampoenkop) deur die uitgelese gehoor laat klankbord; toe bars ek uit van die lag!….. Honor bright, ekke het eers 😁
Ek wou nie. Nie eers per ongeluk nie. Eintlik wou ek uitglip om pille of iets sterkers te gaan koop, maar toe kon ek nie besluit of ek Prozak of Alert moet drink nie; toe bly ek maar sit. Ewe gedwee en op my eie, persoonlike plekkie – is! Maar toe pink Mevrou ewe (skyn)heilig ‘n denkbeeldige traan weg met haar sysagte sakdoekie enne toe…..
Toe, wel; toe onthou ek hoe Petrus en Migael altyd oorpluisies gemaak het van die sagte wolkies. Wanneer daar splinternuwe engeltjies in die Hemel aangekom het en hulle heeleerste eers moes leer koorsing. Blikkies, Bokkie my babie, party van daai nuwe engeltjies het darem hengbaie vals gesing. Maar Meneer en Liewe Jesus het nie eintlik omgegee nie, almal het vir Hulle ewe mooi gesing…… Ek dink Hero het geweet van Petrus en Migael, maar Hy het Hom aspris dom gehou. Oordat Hy nie ‘n spoilsport gewas het nie… Ewentewille. Mevrou het so in stadige aksie tot algehele swygsaamheid gedaal. Bloedrooi ontvlam van vrome toorn. En die hele illustêre (dis hoe Mevrou haar ‘gemeentelede’ genoem het…. Ek’t gaan opsoek, dit beteken glo: vernaam of roemryk) groep dames het vanuit alle rigtings my middeltwee probeer kyk. Kul jou hier en kul jou daar en siedaar! Twee vir die prys van een – wat ‘n bargain.!
Een van my registeronnies het altyd gesê geen vrou sal ooit in die Hemel kon nie, cause why omdat en oordat daar in Openbaring staan: ‘het daar stilte in die hemel gekom, omtrent ‘n halfuur lank;’ en geen vrou sal vir so lank haar mond kan hou nie. Maar dit is nou een profesie wat ‘n baie…… hmmm; baie illustêre dood gesterf het. Sprakeloos. So-so stil jy sou die ou Karoo se taai Kanniedood kon hoor sterf. Net die vreeslikste vuil kyke! Wow, ek was laters van tyd bang my pantie se rek gaan smelt – honor bright, ek was. Illustêr, maar heelaas doodstil. Dit het gelyk of ons stilspeletjie speel.
‘Blommetjie gedenk aan my, sing die spook van die Kleinkaroo;’ en ek het daar gesit met ‘n glimlag so wyd soos die Heer se genade en hy wou nie smaller word nie. Ek het genuine my bes probeer, maar hoe meer Mevrou trane wegpink; hoe minder kry ek ophou met glimlag. Kon erger gewees het – ek kon aanhou lag het…..’Kan ‘n swaeltjie vlieg?’
Dis toe. Net daar waar die Koningin van Koel helemal oorvat. Sal jou die detail spaar.
Maar. Daar sit ek toe met ‘n vreeslik sedige glimlag – spookasem se dinges – dit sou nie in my mond kon smelt nie! Klinies. Saaklik uitverkore. En met estetiese verbasing het ek elke paar oë ontmoet. Onskuld in ‘n klas van sy eie. Enne toe het ek net liggies my kop geskud en begin notas maak van die verigtinge toe dusver. Altans, dis hoe dit nou vir die dames gelyk het. Maar eintlik was ek besig om ‘n liefhêversie vir my Hero te skryf.
Ek skryf mooi woorde en teken prentjies en die dames dink ek’s besig om ‘n roerende eksposé neer te pen. Per dalks nog ‘n joernalistieke verhandeling oor die werkinge van die Gees in die modern realm van Godsvrugtige vrouwees….. Nee, rêrig, Bokkie my babie. Uit die hoek van my oog het ek die een na die ander vermaarde dame sien kopterugdraai na die verhogie met sy donkerhout kateder en sy damaskuspruimkleur kleed. Die imposante ruiker van koningproteas en swaarlelies skuins-links. Soos oorle oom Vaaltuin vir sy kleinnefie Jaffie sou gesê het: Te wonderbaarlik en, honor bright, dit was. Wow!
Met die dieselfde stadige aksie het Mevrou weer haar woord begin vat. Nie meer so perfek getoonset onder al haar duur Anti-wringkle preperate en Esteé Lauder roompies nie. Die effek van haar R320perm ten spyt. Versigtig vat-vat. Voel-voel of haar Franco-Luis-skepping nog presies elke haar op plek is. ‘n Faikonta-bietjie stof wat van die duur, ontwerpers pakkie-suit weggepink word. Bekende weelde. Bekende status – ‘n bekende illlusie.
‘n Uiterlike wat op die Effektebeurs genoteer kan word waarborg nie noodwendig jou vergulde voetspore in die Hiernamaals se Walk of Fame nie. Kyk! ‘There’s a Horseman on the run. Oh, my daughter. Oh, my son. There’s a City so I’m told where the streets are paved with gold.’ Die dinge van die Hemel werk anderster as die van Wallstreet en Holiwood; ek hoor Harrods het ‘n uitvekoping….. Dis hoekom ek van mening is – jy het dít eenvoudig net. Of jy het dít doodeenvoudig net nie.
Styl!
My kop effe na links gestilt. Afwagtend. My pen se warm inkasem vas teen my notaboek met sy liefhêvers en die hartjie ….. My pa het mos altyd gesê dat mens reguit oë moet hê. Wel, ek het Mevrou padlangs in die oë gekyk. Haar blik gehou Al die pad. Die hele pad.
Nou moet jy weet, nê. Mevrou sal enige iets doen om die nodige effek te verkry. Self haar Franco-Luis eksklusiewe meesterstuk (moet liewerster nie vra nie) met Wella Straight bydam as dit nodig blyk te wees. Maar skielik wou niks vir arme Mevrou in die gebruiklike meetsnoere van sukses val nie. Sy sukkel om op dreef te kom met die traansakdoekritueel. Vat-vat selfs ‘n keer of wat Franco-Luis se eksie-perfeksie handewerk presies uit plek. Later skitter nog net Mevrou se knuckle duster van ‘n diamantring – ‘These always brought me luck,’ uitgestel tot verdere kennisgewing……. Met dank ; die GhwarriegatQueen.
Die res van die Dames Beslote Korporasie uit sprakelose sedigheid gebeitel. Ruggies laaistok-regop. Boesems vorentoe (ê….of so iets op ‘n Roomyspienk BMW se spaarwiel) en stoïsyns gebalsem in pruilmond skaakmat! En ekke? Ek fokus ‘n oorlee Salomo se befaamde klein jakkalsies aan die hardloop vinniger as die wildewoeste wind…….. laaste ene by Delila se possie (kyk net uit vir die Filistynse vloekstene!) is ‘n ou haasbek bobbejaan met pers krullers in haar stert! Sien,wat die tantes (sal nie kan sê of een van hulle Nates sinne gewas het nie) se skaakmatkoning in so ‘n reddelose posisie laat verval het. Aan die eenkant van die skaal was my klagstaat met allerande voortreflike woorde soos: Abominasie, laster, ligsinnig, skandalig en ander wonderlike smeterasies. Maar dis die anderkant van die illustêre taaitoffie wat hulle wysheid toetentaal en al verwar het. ‘Are you free or are you dom?’ My lag. My blywende genadewyd-glimlag. Daai koel, kalm naskemering wat my ganse houding knus omvou het – dit was een te veel vir hulle godsdienstige konstitusie. Cause why omdat en oordat sê nou net hierdie hele vreemde debakel was van enige geestesrelevansie?! Hier lei en ly hulle aan blatante skok en ek handhaaf myself asof ek saam met die apostel Paulus sit en High Tea-maak op ant Doris se oopwyegroot stoep; ‘I did it my way.’ Elkeen met een van haar rosiebordjies gelaai met Hetzogkoekies, ystervarkies, melktertjies en curry chicken pies (yummie!)……. En ‘n stewige porsie Double thick creamy Madeira cake with extra chocolate shuffles and cunningly-wild rum-ambiance. Hoeka Paulus wat gesê het: Blus die Gees nie uit nie enne, ja, sê nou net dit was alles die werk van die Gees?! Dalk het die Gees oor my vaardig geword (net per ongeluk dalk) en het ek ‘n beauty instead of ashes-juweel in Mevrou se ‘knie-geïnspireerde homiletiek’ in diepte raakgeluister. En dít het die mooi, blink lagie vernis van hulle stuk Hout laat afspat; ou verweerde purperBloedvlekke weer laat deurslaan. Wat ‘n verskriklike gesig! Met geen uurglasand te spare om die Vloekhout weer gou-gou te revamp nie. Buitendien; my liewe mens, weet jy wat vernis aan jou R800 se naels kan doen?! Olievlekke op jou splintenuwe uitrusting! Ek meen – het jy enige idee presies hoeveel ‘n smaakvolle uitset deesdae kos?!….. ‘I moved like Harlo in Monte Carlo,’ maar ek dink nie dit sou by daai tantes getel het nie. Ag, foeitog. Ag, siestog, die arme bloukopkoggelmandermannetjie. Gelukkig het Beliam se verhaal ‘n hisopstingel se troos voor hulle voete gelê. Daar het die Here hulle God Almagtig gewys dat Hy bereid is om selfs deur ‘n nikswerd, slegte donkie te praat as dit nou nie anders kan nie…… Jong, en was dit nie vir ou Jaffie se oeroom Beliam nie, dan was al wat Agony Oom en Auntie is volbespreek. Trauma tot op die been. Eina! Bokkie my babie, dit was histeries snaaks. Dit sal altyd in my eie, persoonlike lagalbum bly prentjies maak. ‘And the Saints come marching in’ – die vroomdoenerige molshooppredikasie is heelwat vroeër ge-amen as wat die bloudruk bepaal het wat voortydig Hemeltoe gefaks…… ê, skuus; Hemeltoe gebid is. Die geesteswêreld is uiters onvoorspelbaar, my liewe mens. Met die nou dat donkies en hoere op die een of ander manier altyd ‘n skuiwergat kry in die verdienstelikheid van enige goeie raadsplan. Ja, die lewe is nie maklik nie. Soms lees die Here God ‘n paragraaf of klousule mis wat Hy eintlik ten goede moes oordink het. Ja, daai (skyn)heilige dames is daai lekker warm Woensdagoggend met hul fênsie panties om hulle se blink skoene betrap deur die vreugde, die liefwees van ‘n God wat aan melaatses gevat het. Wat met snotneus, spoegbek kindertjies gespeel het. ‘Don’t cry for me, Argentina.’
‘n MessiasMan met Vlammevuur in Sy oë en ‘n forse, spierewit Arabierse reisiesperd wat lank-lank gelede op ‘n plek ver-ver van hier die wildewit rook uit ‘n klomp huigelaars gefoeter het met ‘n toutjiessambok. Jy’t net gesien halos waai! Om die een of ander rede hou Hy nie van ‘n gekerk-kerk speel nie. Wonder waarom nie?! Dan liewerster die septiese hande van ‘n veragtelike hoer wat Sy aardeloop-voete salf. ‘The truth is, I never left you. Through my wild days, my mad existence’…… Ja, liewerster die skarlakenmond van ‘n onbekeerde tepelteef wat netnou nog asemsnakend om die spykerharde penis van ‘n geleerde godsdienstige gevou was…. Vir die glorie en ekstase van smerterige duiwelsaad se splintespat teen die koue tempelmure van haar mond dwarsdeur die voorhangsel van haar rukkende lyf – die mirre en bitterwyn van ‘n ander hel se kruis. Here my God!!! Oukay, goed. Ek weet dis nie wetenskaplik bewys of profeties geopenbaar nie; maar ek het so ‘n ietwat vae idee dat daai stuck-up kerkfariseër-oom se nageslag eintlik die oorspronklike punt van enigsins enige orde gewas het…… ê, gewees het. Ek bedoel – is. Miskien soortvan….. van Name, vanne, diere, dorpe …… Dis anderkant Colesberg. Duskant De Aar. So nie, ry verby Laignsburg en Beaufort-Wes….. Uhm; o ja! Die tantes nie van Nantes. Met hulle smaakvolle uitrustings en hulle elegante, uiters kunssinnige paket van verdoemenis. En hulle iewerster geleende Royal Albert. En ekke wat nie ‘n Royalis is nie. Jy spel die GhwarriegatQueen andersters. Dit het die tantes nie van Nantes so in strofes en verse agtergekom. Is nie doodseker (ook nie honderpersent nie) of hulle bly of verontwaardig was omdat ek nie wou Royal Albert nie. Per dalks so gawe skeppie van albei. My steeds blywende glimlag het hulle egter henguit ontsenu. Nou dit was ‘n feit soos ‘n koei, en defneslis nie ‘n Mildrid-ene nie. Hoegenaamd nie. Enigsins ook nie. The real Makoya….. ‘Where do you go to, my lovely…….. When you’re alone in your bed?’ Huh-uh – die helfte van jou koninkryk as ek jou sê, nê. Liewerster nie, Bokkie my babie, ek sien jou mediese fonds is ‘n maand agterstallig. In elk geval. Mevrou met haar man se status as addendum agterna. Nou sy, nê; sy het die helesituasie (nie die halwe ene nie!) as ‘n formidabele gaping gesien om haar sosiale status en aansien onder almal en wie nog almal se neuse te vryf. Het my ewe hoogdrawend (as jy my ken, sal jy weet dis een van die dinge wat my dodelik op die plek die bloubloedhorries gee!) opdrag gegee om ‘n foto van haar en ‘n paar uitgelese (weet nie aan watter noveltjies hulle sou uitgelese was nie – wed jou dis nie C.S Lewis of Tolkin nie) dames te kom neem met die ‘verruklike verhoogruiker’ as agtergrond…… Tant Mieta kook stroop van die meebos…… Maar ek was oulik-verby – ek het haar ewe liefies en helemal en mahala ingelig dat daar hoegenaamd geen sprake was van enige Kodac Moment nie; cause why. Cause why omdat en oordat my kamera se flash was in vir ‘n diens. Maar ongelukkig het ek nie die nodige magtiging gehad om oor te vertel of die diens Calvinisties of Charismaties sou wees nie….. ‘Al die kindertjies van Jesus is nie pô-pô nie.’Ek sit hier onder en ek wonder of jy weet profeet’ …. Hmmm, ek het dit regtig gesê. Eintlik nogal met kinderlike onskuld. Is; en stoopsoet ( meebos of Ilovo) genoeg om die arme Mevrou-vraagteken in haar fênsie skoene suikersiekte te kon gee….. Wat kan ek sê? Jy het dit of jy het dit nie. Sy kan bitter bly wees ek het nie vir haar ‘n T-shirt as aandenking gegee gegee nie…………. I’M NOT A BITCH. I’M THE BITCH. Jip; been there. Done that – got the T-shirt, the stretch marks and the attitude to show….. Yes! Bokkie my babie, ‘it’s hard to be humble when your’re perfect in every way’ enne die Ghwarriegat-Queen is nou maar eenmaal (kan seker per dalks two times twice ook wees) nie jou tipiese, gemiddelde tuinblommetjie soort van vroumensmens nie. Nie toe my kaallyf meer kba tussen die Satynlakens was as wat ek graag sal wil onthou nie. En defneslis ook nie nou nie.
Nouja, laat ek my Sielsambok bêre en eerder my sondes bedink; andersters skryf ek per dalks myself helemal van die kortlys af Hemeltoe.
Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; enne mag die vingerafdrukke van die lewe vandag saggies lê teen die handbreedtes van jou wees.
©Liza Daniells
https://www.malherbe-uitgewers.co.za/shop/product/331-satynlakens
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.