Ekkerigheid
Brons 170 woorde
Ek lees die woord raak in een van Berdéhand Brand se gedigte. Ekkerigheid. Oombliklik kom ek tot ʼn skokkende besef. Ekkerigheid is ook die ongedurigheid binne my, die afsondering, die rusteloosheid wat nie wyk wil kry nie. Dit lê soos ʼn stuk klipperaarde tussen my en Abba Vader. En ek val op die grond. “Here,” pleit ek, “vergewe my”. Ek het my geesdrif verloor, met die swaarkry-tyd verstrengel geraak. My oë op die pyn gerig. Alles gaan oor my, nie meer God nie.
Dié woord bring ʼn kopskuif, en daarna kalmte. Die plek waar ek myself bevind het mag miskien ‘n geestelike niemandsland wees, maar my Here kén my. Hy het nooit van my vergeet in die seer stiltes nie. Dinge werk uit soos dit moet. “Kyk, Ek maak alles nuut.”
My hart is versterk. En ek dans op die lied van Sy liefde, ek dans soos ʼn steenbok in ʼn haak-en-steek-savanne, soos ʼn klipblom tussen die krake van ʼn rotshang. Ek dans en dans soos ʼn bateleur teen bergbloutes.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2019 projek - Dans asof niemand sien nie