En wanneer slaap die bosbokooi?
Leeus brul in die nag,
uile jag,
hiënas lag.
In lemoenboorde (langs die Limpopo)
knal gaskanonne sporadies in die donker.
Bobbejane slaap nie.
Olifante breek bome af.
Voor ligdag roer blouape in Nyalaboomkrone.
En teen skemer is ‘n jakkals aan die draf.
Die nag is nie gemaak om in te slaap nie.
Die nag is gemaak vir wakkerlê en dink.
Verlange ontwaak in die donker –
dit weet ek nou.
En dat leeus brul in die nag,
dat grootoog uile muise jag
en dat hiënas in die duister lag.
© Carma Shaw
Julie 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.