Fraktuur SILWER
Fraktuur
Die impak plaas die fokus op my
en my binneste lê vir almal oopgesprei.
Deur donkerte omstraal, alleen,
word ek met x-straaloë bejeën.
En dié wat koud en klinies kyk
beskou die hard’, gebroke werklikheid;
merk skaars die skadu’s van my sag
wat ook verpulpd om raaksien smag.
“Dit was dalk lankal reeds gekraak.”
“Tot ons uiterste verbasing.”
“Tog beduidende verplasing.”
“Haar ouderdom maak saak.”
“Sy was gelukkig gewees.”
“Dit behoort vinnig te genees.”
Ek gips myself van alles af
Krukkroek óm dit wat pyn verskaf.
Vermy deur min gewig te dra
die tol wat lewenslaste vra.
Ek immob’liseer.
Ek atrofeer.
Binne my stry osteoklast
en osteoblast
deur breek en bou en bou en breek
om krake weg te steek.
My skild verkrummel mettertyd
stagnasiestank skreeu stilverwyt:
Vermyding kweek net swakheid.
Die krukke waaraan ek vasklou
is juis wat my nou t’rughou.
Ek moet als agterlaat:
ek is tot meer in staat!
Ek sal probeer
hermodelleer.
©ASvdMerwe
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2021 – OOP projek