Hart van ‘n ma
My kind …
jou optrede en woorde
skif soos kaf in die wind
een oomblik kwansuis satyn
dan weer druppend van venyn
kneeswoorde en dade
(hier en daar, deur die jaar)
wat seer letsels laat
my oog sien
wat ander nie kan
my oor hoor
wat ander nie verstaan
getrou gee jy elke jaar
(met Moedersdag)
‘n toegedraaide geskenk
gestrik in trots en prag
en, alhoewel ek dit aanvaar met dank
bloei my hart oor klater
want opregte liefde
(en respek)
kan nie gemeet word in geld
teen suiwer waarde
so, los maar die jaarlikse
eendag-onthou-geskenke
die afgewaterde huldeblyke
sien raak my moederhart
verguis, vertrap, versmart
deur onsensitiewe optrede en woorde –
veel eerder sal ek daagliks wil ontvang
eerbied uit jou dade
want slegs dít
sal my kan laat voel
soos ‘n ma van waarde.
©Driekie Grobler
(11/5/2019)
5 Kommentare
-

Kiekies
Sjoe baaaie goed bedink en verwoord!
-

Loretta Szikra
Ai Driekie, pragtig verwoord en so waar! Hoe wens ek nou dat ek net nog n kans kon kry om my liefste ma weer en meer te kan waardeer… Soms besef mens nie n moeder se waarde tot dit te laat is nie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2019 projek