Heilige ibis*
Die son kom op net waar sy wil
en wys haar mooiste kleure
oor Blue Downs* en Driftsands* se duine.
Sy strooi haar gloed oor wilde tuine
wat weinig meer as sand en boegoe is.
Sy steek haar kop deur rook en mis
en vly haar skoonste lig oor roet en as –
dáár
waar net gister nog, die helse vure was.
En sonder oordeel skyn sy bloedig rooi
‘wyl sy die hemel soos framboos,
tot in die diepste diep oranje tooi.
Die son breek deur die donker wolk
en glim oor kuile en ‘n vlei
waarom die groenste riete groei.
Sy laat blink die laaste winter waters
wat nog in (amper droë) riviere vloei.
Sy gloei voor Helderberg se hang,
oor witgeverfde huise
waar die rykes woon.
Sy vlam oor fynbos en oor vlaktegras,
oor voetpad en teen heinings vas
waar agter plakkers
in plank- en sinkgehugte droom.
Die son skyn waar sy wil –
oor taxi’s en blink motors
en rus vir oomblikke verblindend, stil
bo ‘n brug wat oor die N2 baan.
En hóóg,
waar – in ambergoud – haar strale dans,
kruis ‘n ibis teen die hemeltrans.
En hy sprei sy vlerke vry en wyd . . .
in ‘n skadubeeld van heiligheid.
© C. Shaw
9 Januarie 2017
* heilige ibis – wit- en swartgekleurde ibisvoël
* Driftsands – ‘n reservaat ongeveer 20 km vanaf Kaapstad langs die R300 en die N2
* Blue Downs – ‘n informele woongebied aangrensend aan Driftsands
6 Kommentare
-

Elroux
Allerliefliks
-

Koekekranka
Laat die spoor van hierdie son kom naloop om die heiligheid van die ibis-beeld te kon deel, maar dan ten minste betyds om die prag van jou werkie te kan geniet. Vir my is die saamreis pragtig, meelewend. Dankie!
-

Boetiegoed
Carma, dit is eenvoudig pragtig! Ek kan my ook altyd verwonder wanneer ek die son sien deurbreek deur wolke met die strale afge-ets op die kante!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April se ope afdeling projek