Doris Day*
hier sit ek op die agterstoep
dis veels te warm in die huis
die swart hond drink lou water
uit haar bak voor die kombuis
die avondlug’s belofteloos –
ek tel die sterre en een maan
en soms wonder ek maar net
waaroor die lewe eintlik gaan
as die reën die jaar nie kom nie
dan is dit drie jaar in ‘n ry
as die reën vanjáár nie kom nie
kom dit dalk te laat vir my
die droogte lê bewyse neer
– verlepte lelies, dooie gras
ek onthou die dag soos gister
toe malva’s blomme bloedrooi was
en as die perskeboom se blare
so verdor aan takke hang
dan weet sy ook mos hoe dit voel
om na uitkoms te verlang
as die reën dié jaar nie val nie
en nog ‘n winter gaan verby
sonder druppels uit die hemel
is dit dalk koebaai met my
grys water uit die wasmasjien
loop in die grasgroen wieledrom
‘n emmer kan net sóveel skep
so – kom ons om, so kom ons om
hier langs my sit die withaar brak
onder ster en sekelmaan
en ek wonder of hy wonder
waaroor al die dinge gaan
want as dit wintertyd nie reën nie
– is dit al drie jaar in ‘n ry
as die reën vanjaar nie val nie
is dit verbý . . . met Doris Day*
© Carma Shaw
23 Februarie 2017
* “verby met Doris Day” – uitdrukking wat ek voeër jare dikwels gehoor het. Dis gebruik om aan te dui dat ‘n situasie nie meer te redde is nie.
* Doris Day – afgetrede Amerikaanse aktrise en sangeres.
7 Kommentare
-

neels
Pragtig geskryf Carma
-

Elroux
Uitstaande gedig
-

Toom
Daar het jy my gevang - met my eerste langafstandliefde vir Doris Day. Ja, ons het ook as tiener verby, verby . . . gesingsê. Hoe sy aan haar naam gekom het? As tiener het Doris Rubenstein in 'n kompetisie 'n prys gewen vir 'n lied wat sy gesing het. -Maar met so 'n naam kan jy nie op die verhoog gaan nie, kind! Dan neem ek ewe die naam van die lied waarmee ek gewen het, wat my beroemd gaan maak: ,Night and Day, / You are the one. . .' Dankie vir nóg 'n uitstekende gedig. GvT
-

Koekekranka
Heerlik!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April se ope afdeling projek