Adderleystraat .
(Nou loop jy so versigtig, Mamma
en jy moet mooi kyk waar jy stap,
maar laat rus jou hand sag op my arm
– dan klim ons sáám
die laaste trap.)
Adderleystraat
Ek wonder of die sypaadjies
van Adderleystraat onthou –
die klik-klak van jou hoëhakskoene
verby die Stuttafordsgebou.
En dra die ruite nog herinnerings
van jou plooiromp wat so swaai
as die Suidoos asem uitblaas
om Kaapstad
se elke hoek en draai.
Hou die blommemark nog inherent
jou wese vasgevang,
sal – tussen asters en geel rose –
nog ‘n sweem
van jou parfuum rondhang.
Ek verbeel my soms
ek hoor dit nog –
jou voetval in gereëlde maat,
die klik-klak van jou flinke tred
verby Standardbank, oor sypaadjies,
op koers
deur Adderleystraat.
© Carma Shaw
08 Maart 2017
2 Kommentare
-
neels
Toe ek die naam sien toe weet ek, hier kom Carma met n fees
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April se ope afdeling projek