Hooglied
Hooglied
אֲנִי לְדוֹדִי וְדוֹדִי לִי
Jou vergifnis het ek verpand
vir dertig nuwe drome, toe
my kruis langs jou poorte laat lê.
En maar vir jou ‘n tuin geplant,
met vyebome sonder vrug,
net soos jy graag wou hê.
Al die offers wat ek eens na
jou heil’ge plek sou bring,
lê vertrap soos sout en pêrels.
Want in Gadara het ek jou huis gaan bou,
op pottebakkersgrond, met die uitsig
van die kranse en van die wêreld.
‘n Klipmuur beskerm jou wingerd,
van Nabod gebuit vir lensiesop,
waar net leë beloftes lê.
In die werf, ‘n swart ou haan
wat kraai en kraai en kraai,
en só jou liefde en haat vir my sê.
Teen die voorhek hang sandale,
oud, dor-gekraak, en nes my hart,
oortrek met stof van nêrens.
Onder die stoepdak staan ‘n Dawidsbad,
waar jy dalk, soos goeie sin,
jou skaamte ook kan bêre.
2 Kommentare
-
Seirdna
Uitstaande!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2022 Liriese projek