Huis Jabez
Huis Jabez
Dit is winter en dis koud. Ek lig myself met moeite uit die bed uit. Die knusheid van die komberse lok my terug. Gisteraand het ons tot laat pakkies opgemaak en strikkies van helder, bont kleure vasgebind. My lyf voel dit. Halfsewe moet ons by die bymekaarkomplek wees. Elkeen met sy pakke skyfies, lekkers, vrugte, geskenke. Ek gaap en strompel stort toe. Terwyl ek onder die warm water staan, voel ek hoe die water die slaap van my lyf was. Ek dink aan Huis Jabez. Aan die kinders wat net mekaar het. Die mense wat hulle moes oppas en koester; wat vir hulle van die lewe moes leer; wat vir hulle met slaaptyd ‘n storie moes vertel en ‘n soentjie op die voorkop druk; die komberse knus om die kinderlyfie vasdruk; daardie mense het hulle versaak. Verwaarloos. Weggegooi. Grootmensdinge met tenger kinderlyfies gedoen. Hartseer en verlange diep binne met ‘n groot glimlag vir die wêreld daarbuite. ‘n Glimlag wat soos ‘n dun lagie vel die seer binne moet hou.
Ek staan op die stoep met ‘n beker koffie in die hand terwyl die koue aan my byt. Ek kyk uit oor die tuin wat ek met sorg en moeite oor jare opgebou het. Tussen die takke deur breek die dag op die horison. Die voëls- die duiwe veral – maak die dag wakker. My gedagtes word vasgevang in die gloed van die nuwe dag. Die tuin voor my kort bietjie aandag. Miskien ‘n pot in daardie oorkantste hoek en daar tussen die klippe kan ‘n paar broodbome ook nogal mooi lyk. Die fontein kort ook ‘n bietjie nuwe plante. Iets met kleur. Ek sien prentjies van wat kan wees. Maar voor ek dit kan doen moet ek eers nog ‘n muur tussen die kombuis en die eetkamer uitbreek. My vrou sê eetkamers is outyds. Niemand gebruik dit meer nie. Dit word net ‘n pakplek vir al die oortollige goed in die huis. Die eetkamerstel moet uit, en ‘n nuwe rottangstel moet in. Met mooi helder kussings om die plek bietjie op te vrolik. En sy wil nuwe gordyne hê en die linne in die spaarkamer is ook al oud sê sy. Drome, alles net drome.
In ‘n lang konvooi ry ons later oos. In Cullinan stop ons voor Huis Jabez. Daar staan ‘n paar kinders voor ons en die afwagting is duidelik op hulle gesigte te sien. Ons spandeer tyd saam met vrolike gesiggies en geniet hulle skaterlag. Wie weet watter hartseer skuil daar agter daardie laggies? Hoedjies van papier en die reuk van inkleurkryte laat my verlang na groen milkshakes en roomys. Dis Eugene, een van die seuns, se negende verjaardag, en Willem gee vir hom ‘n rugbybal. Die ander kry ook elkeen ‘n geskenk. Gou word ons ingetrek in ‘n rugbywedstryd op die grasperk. Die kannetjies hardloop draaie om ons en na vyftien minute sleep my tong op die grond. Stephan kom sit ook langs my. Hy blaas soos ‘n os. “Nee wat,” sê hy vir my, “veertig jaar terug kon ons nog hierdie soort ding doen. Ek dink ek is reg vir rolbal of iets stadiger.”
Elf uur stop daar ‘n bussie voor die huis. Dis opgemaak met linte en balonne. Almal klim in en ons ry tot by die Wimpy. Ek kyk na die kinders en in die besonder na Eugene. Hoe gelukkig kan ‘n seuntjie se gesiggie straal omdat hy saam met sy maatjies sy verjaarsdag by die Wimpy mag vier. Wat gaan in sy kindergemoed aan. Dink hy aan sy ma? Sy pa? Oupa’s en ouma’s? Het hy hulle dalk nog nooit gesien nie? Is hierdie huisouers sy enigste pa en ma en ouma en oupa wat hy ooit sal ken?
Die kelnerin deel die spyskaarte uit. Sonder om eens deur die spyskaart te blaai, bestel Eugene roomys. “Nee,” sê Willem, “die roomys kom later. Eet eers ‘n burger of iets.” “Nee,” sê hy, “roomys asseblief. Net roomys. Ek is solank al lus vir roomys. Met ‘n dik tjoklitsous.” Willem bestel roomys met ‘n dik tjoklitsous. Eugene se oë blink. “Ek soek ‘n cheese burger asseblief,” sê Ronel,‘n ander dogter van so om en by twaalfjaar oud, en wat skuins oorkant my sit. “Voordat hulle my by die huis weggevat het, het ons partykeer cheese burgers gaan eet.” Die gesiggie versomber effens. Net effens.
Dis hier wat ek besef wat ek het as iemand sy cheese burger verruil vir ‘n groot roomys met ‘n dik tjoklitsous, want dis wat sy droom inhou vir vandag. Hy’t niks meer nodig nie. Die wêreld is vandag perfek want roomys maak die wêreld gesond en roomys vat die seer weg en roomys maak verlange minder.
Roomys. So min en tog so baie. ‘n Cheese burger. Die enigste verband aan tye wat anders was.
Ek voel hoe my keel begin brand en my oë waterig raak en ek voel skuldig omdat ek roomys en cheese burgers as vanselfsprekend aanvaar.
“Voordat hulle my by die huis weggevat het, het ons partykeer cheese burgers gaan eet”, hoor ek weer die stemmetjie in my kop en ek voel hoe my hart stukkend voor my neerval. Ek het soveel om voor dankbaar te wees.
Die kinders deel drukkies uit voor ons in die bussie klim. Glimlaggende tamatiesous gesiggies kyk deur die bussie se vensters na die wêreld daar buite. Hierbinne is dit veilig. Dis warm en knus. Daarbuite is dit donker en koud. Al skyn die son helder.
Ek wil vandag vergeet van daardie glinster huis met die broodboom tuin; van die eetkamer tafel wat moet plek maak vir ‘n rottangstel met bont kussings en nuwe linne vir die spaarkamer.
Ek wil onthou hoe kosbaar dit was om iemand se roomys-en-tjoklitsousdroom waar te maak. Om iemand met ‘n cheese burger te laat onthou van tye wat (dalk) beter was.
Veral wanneer ek kla oor nietighede.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.