Huis, paleis, pondok, varkhok
Ja-nee-wat, een plek waar ek nou nie sal aanpas nie, is daai plekkie wat skitterblink van bo tot onder en daar nie eens ʼn foto raampie op gisteraand se gebruikte kaggel staan nie. Te klinies en onpersoonlik. Vriendin vra juis om verskoning dat haar woning so deurmekaar is en ek kyk verwonderend rond want daar is niks wat moontlik deurmekaar kan wees nie. Ek kan my weerkaatsing in die teëlvloere sien en die kaal rusbank se leer kraak klinies-ongemaklik onder my agterstewe. Dis koud en onpersoonlik daarbinne. Letterlik. Dit is nie net die min sonlig in die huis wat my laat ril nie, maar ook die gasvrou se perfeksie. Elke haartjie op sy plek terwyl Ano alweer lyk asof sy reeds weke gelede kop eerste uit ʼn stokou tuimeldroër getuimel het. Ek wil-wil my pinkie in die lug hou terwyl ek fyntjies aan my teetjies suig, maar ek weier ook koppig om my met hierdie eksie-perfeksie lewenswyse te laat intimideer. En, sy mag dalk net die waarheid agterkom en vermoed ek spot so liggies, maar baie openlik, met haar.
Dan kan ek ook nie help om te wonder wat sy van my en my ou deurmekaar huisie dink nie. Gister se koerant lê nog op die kombuistafel en dit is okay, ons blaai nog daarin en maak ʼn lysie van Checkers se nuutste spesiale aanbiedinge. Die skottelgoed is gewas en gebêre, maar die vadoek hang aan die hakkie langs die wasbak. Oh genade, wat ʼn afskuwelikheid!
My verbeelding hardloop met my weg wanneer ek dink dat liewe vriendin eers ʼn paar kalmeerpilletjies moet sluk nog voordat sy dit oorweeg om in te loer. Sy moet so half in ʼn beswyming verkeer om hierdie deurmekaar plek te oorleef. En natuurlik is daar hopeloos te veel kaggel**kkies, soos my skoonseun laggend na my versameling “goetertjies” verwys. Dalk is dit nie ʼn goedige laggie nie, maar eerder een gebore uit pure benoudheid en hartlik oor sy lippe borrel wanneer hy na hul toekomstige erflating kyk. My ore slaat bot toe. Solank ek met verf, lappies en gom kan skep, sal daar allerhande goetertjies gebore word, vinniger as wat dit nuwe base kan kry.
Die mure en teëls is ʼn warm, vrolike kleur met sonlig wat by byna elke venster instroom. Gister het Hubby ʼn modderspoor op die kombuisvloer getrap, en niemand het ʼn aar gebars nie. Genadiglik is skoonmoeder ook nie meer hier om met haar lappie te vee waar jy ookal jou voete oplig nie. Partymaal word orde en higiëne so ver gevoer dat mens te bang is om daar binne asem te haal. Jy weet, jou asem bevat waterdruppels en dit gaan sit op elke denkbare oppervlak. Jou vingerafdrukke ook. In sommige huise hou ek maar liefs my handjies op my skoot want mens weet nooit watse kieme mens op die gepoleerde Embuia meubels gaan laat nie. Ek kug maar saggies in my elmboog sodat daar so min as moontlik “mens” in hierdie kil laboratorium sal agterbly. Wie weet, dalk versamel die mense DNA of iets vir een of ander eksperiment.
My ou huisie is ʼn plek om gemaklik te wees. Een waar die kinders hul blokkies en poppe op die mat kan uitgooi en lustig kan speel. Die speelgoed sal wel weer hul plek na die kas vind en as dit nou ʼn dag of twee op die tafel bly rondstaan, gaan niemand mor nie. Dit is immers nie nodig om die huis te steriliseer sodra die voordeur agter die gaste toeklap nie. Hier moet jy met ʼn behaaglike sug op die bed kan neerval en nie bekommerd wees omdat die duvet nie meer eksie perfeksie is nie. Jy moet rustig koffie kan drink sonder om te sien hoe die gasvrou die koppies was nog voordat dit in die wasbak grondgevat het.
Ek kuier graag in ʼn plek waar ek weet ek mag maar my voete op die rusbank sit, maar dit uit respek nie doen nie. Dit is waar ek tuis is. Daardie plek waar die hond en drie katte ook in die sitkamer mag sit sonder om verskree te word.
Maar wat is ʼn huis sonder ʼn bietjie warmte? Net ʼn baksteen gebou, niks meer nie. Die skouhuise op Top Billing. Die blou-blou swembad en wasige wit gordyne wat liggies deur die skuifdeure waai. Die haarlose Windhond moet verkieslik buite sit bly maar steeds snags sy plek as liefdevolle waghond volstaan. Nooit sal jy ooit ʼn modder voetspoortjie op die kliniese kombuisteëls vind nie.
En dalk, eendag wanneer Hubby dit sou waag om na ʼn verdwaalde laatnag uitstappie by die voordeur in te sluip en my met ʼn besem in die hand sou betrap, sal hy seker ietwat verbaas vra of ek huis skoonmaak of dalk beplan om iewers heen te vlieg? Dit sal heel waarskynlik die laataand vlug wees, want ons vroutjies is mos kreatief en weet tog waarvoor besems eintlik gebruik word, of hoe?
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2022 My huis is my woning projek