Jan van der Merwe se spinnekop byt
Jan van der Merwe se spinnekop byt
Woorde 2058
Sy verspotte velhoed sit windskeef oor sy boskas as hy sy oë skrefies maak teen die skerp strale van die onnergaande son. Sy kyk vee oor die volle breedte van sy plaas. Sy naam is oral bekend – Jan van der Merwe. Sy plaas, eintlik nie veel meer as ‘n vergrote plot nie, en grens aan die hoofstraat van die plaasdorpie Biesiesvlei. Die enigste straat waaroor die dorpie beskik, in die hartjie van Noordwes.
Sy persoonlikheid beklemtoon sy naam. Jan van der Merwe is ‘n deurmekaar en windverwaaide mielieboer, maar sy vrou Estelle, hou sy naam hoog. Haar hanne vat raak wanneer dit vat, en wanneer sy nie haar vat kry nie, lag sy dit weg. Kommer ken sy nie. Jan se planne sal windskeef staan was dit nie vir sy Estelle nie.
Die seningrige mannetjie kry lekker as hy dink aan die stoetvrou wat moeder aarde hom gegee het. Hy rol die soet lekker in sy kieste rond en dié proe sommer soeter as hy net aan haar dink. Sy is welliswaar nou nie ‘n model nie, want die uiterlike tel nie vir Jan nie, maar binne in haar groot bors skuil ‘n feëkoningin. “Deur dik en dun”…deur die maer jare en die vettes…die lang derm en sy kort dik vroutjie se trou aan mekaar en liefde vir mekaar is alombekend in die distrik. Vir die mense van Biesiesvlei bly hulle ‘n rare verskynsel.
Die fynskrif wat nie aan die klok gehang word nie is dat dit nie altyd so was nie! Jan glip sy hand in sy boonste hempsak en kry nog een lekker om te suig. Daar was ‘n tyd toe hy sy vrou ampertjies verloor het…
Een Maandag more help hy toe, soos oudergewoonte, sy ouvolk beeste voer. Yster Brits, sy beste vriend wat die tuindienste op die dorp bedryf, laai so dan en wan oortollige tuinvullis, veral peule, vir sy span beeste voor die kraal af. Dan meng Jan en sy ouvolk die peule met die groenvoer en stoor dit in bale in die ou sinkstoor langsaan die huis, vir die dae wat die son steek en die reën wegkruipertjie speel agter die wolke.
So op die betrokke Maandagoggend beland daar toe die een of ander gogga in Jan se werkstewels. Eers wis hy van niks nie. Later begin daar ‘n ding in sy skoen brand soos ‘n vuur uit die hel alleen kan! Denkend dat dit ‘n peuledop is wat by sy kous ingevoeter het, vryf hy sy duim in sy kous om van die lastigheid ontslae te raak en gaan verwoed aan in sy poging om die peule en die groenvoer op ‘n manier gemeng te kry. Later is die brandpyn so lastig dat hy genoodsaak is om op die kruiwa te gaan sit en sy skoen uit te trek om te sien wat die moeilikheid dan is.
Die vloek wat val oor sy lippe bring ‘n gewyde stilte oor die ouvolk. Toe hy sy skoen gooi dat dit ‘n boog in die lug maak en oupiet skrams op sy korrelkop tref weet die ouvolk die Maandag draai blou.
Jan van der Merwe kyk na die oorblyfsels van die spinnekop wat hy in sy skoen doodgedruk het toe hy gedink het ‘n peul het by sy kous ingeval. Hy kyk na sy voet en voel oombliklik ylhoofdig. Die swerkater het hom gebyt. Drie kere nogal. En die gif brand ‘n pad dwarsoor sy voetbrug so al asof ‘n kan soutsuur oor hom loop. Yster Brits staan nader aan die spektakel, gee net een kyk en besef dat hiérdie doktersake is.
Hy laai vir Jan vinnig voor in die Ford Bakkie, skree dan vir oupiet om die wa af te hak terwyl hy reeds in eerste rat is. Die Ouvolk staan met hoede in die hand en tong klik soos hulle die kreunende Jan van der Merwe jammerlik agternakyk.
Die peulebesigheid eers in die agterkop, nou skoon vergete. Onthou Oupiet wat in’n oomblik van helderheid Estelle se gesig sien. Hy vra toe sommer ‘n jongklong om by die huis langs te draf sodat Estelle die dokter kan oplui sodat hy hom kan voorberei vir Yster Brits wat oppad is na sy kantore toe met n’ verskriklike vinnige spoed.
Dit vat Yster Brits skaars ag minute om amper by die deur van die kliniek in te ry. Hy lewer Jan af asof hy ‘n pakkie is – in die hande van dok Heunis. Die voet het teen hierdie tyd ‘n kol so groot soos ‘n ryp vy bo-oor die brug. Jan kyk vasgenael op die gif wat sy vleis verder vreet op sy voet. Daar hang ‘n siek reuk van vrot vleis in die lug. Swerkater van ‘n spinnekop!
Die dokter lyk nie vreeslik bekommerd nie. Yster Brits sien hoe skryf dokter op Jan van der Merwe se pasientvorm dat ‘n “gogga” hom op die voet gebyt het. Yster Brits kyk onsteld liewers weg. Dit was ‘n spinnekop, nie ‘n “gogga” nie! Genugtig!!
Dokter trek ‘n naald vol spuitstof. Seker teengif, soos met slangbyte, dink Yster Brits.
Jan lê en kreun soos ‘n man op sy einde. Dis ‘n ellendige situasie. Die sweet lê blink oor sy voorkop en hy gryp-gryp na iemand se hande om dit te druk vir pyn . Yster wil-wil ongemaklik raak oor die hand vas houery, maar besef sy vriend moet seker ylend dink dis Estelle se hand wat hy nou hier vashou. Die dokter spuit in die vrot vleis in. Die gif versprei nog steeds soos ‘n veldbrand.
Jan vra ewe die dokter of dit nie beter sal wees om liewers die voet net onner die enkel af te sit nie. Dis ‘n nare gedoente. Yster voel al lig in sy kop van al die reuke wat in die bedompige kamertjie nesskrop.
Estelle stop in ‘n wolk voor die kliniek. Sy was nog aan die aantrek toe sy tyding kry van haar man Jan se ongesteldheid. Sy het net daar en dan die bakkie se sleutels gegryp en kom sy nou by die kliniekdeur ingewaai. Yster Brits los blitsvinnig Jan se hand en glimlag soos ‘n skoolseun wat op heterdaad betrap is. Sy gee hom een vuil kyk en kom binne.
Knap vrou wat Estelle is, som die situasie vinnig op en snel dokter Heunis te hulp. Sy gee die bakkie met ontsmetmiddel aan, sy gee die gasies, verbande en salf aan. Haar hande vat net reg. Jan het intussen weer Yster Brits se hand raak gevat, en laat dit maar daar. Estelle sien niks meer raak as die ellende waarin haar man Jan verkeer nie.
Baie later skommel die paartjie terug huistoe. Uitgeteer van die honger en die skok. Saam met hulle vind ‘n berg steriele verbande, gaasverband, wondskoonmaakmiddel, pynpille en des meer hulle weg na die huisie op die plaas. Estelle dink net aan hulle troubelofte aan mekaar…”deur dik en dun…tot die dood ons skei”. Estelle weet sy word nou getoets.
En was dit nie ‘n toets nie! Skielik is Estelle nie meer net “tuisteskepper” nie. Die bordjies word verhang. Nou is sy boer, dokter, berader en die verpleegster! Jan is meer deurmekaar as ooit tevore! Hy weet nie of hy moet lag of huil nie, baklei of sy nederlaag aanvaar nie. Aan die een kant, kry hy homself vreeslik jammer, aan die ander kant, kry hy vir Estelle jammer.
Dis asof dit oordeelsdag is toe hulle tien dae later die geleerde dokter op Klerksdorp moet gaan sien. Dit is hier waar hulle gaan hoor of Estelle wel Jan se wonde goed genoeg versorg het om ‘n veloorplanting op sy voet te doen. Daar is ‘n gat so groot soos ‘n botterskorsie op Jan se voet.
Die dokter knik goedkeurend. Estelle tevrede maar moeg knik terug vir die dokter. Weet die dokter wat dit gekos het om daardie voet kiemvry te kry? Sy is nie meer dieselfde mens as wat sy was voor hierdie tragedie nie…
Nou moet hulle ongevalle toe. Dis ‘n vreemde ervaring vir hierdie boeremense. Jan klou met sy seningrige lyf aan Estelle se sterk voorarm terwyl hy per rystoel vervoer word na ongevalle. In Estelle se vry hand dra sy Jan se oornagtassie, dokter Heunis het gewaarsku dat dit mag nodig wees. Estelle byt haar onderlip vas. Jan is reeds so deurmekaar, wat nou na die narkose ? Sal dit haar man se tor nie dalk finaal uit sy baan ruk nie? Sal hy weer dieselfde wees na hierdie ervaring?
Dis met verskriklike skok dat Jan van der merwe op die bed by ongevalle by die suster hoor hy kry nie narkose nie. Estelle is dankbaar en stuur ‘n skietgebed op. Jan aan die ander kant, slaan in ‘n koue sweet uit by die aanhoor daarvan dat hy by sy volle positiewe gaan wees wanneer die dokter die vrot vleis uit sy voet gaan slag.
Die vriendelike rooikop verpleegster probeer hom gerus stel dat hy darem “lokaal” verdoof gaan word en niks sal voel nie, maar hy is so paniekbevange dat hy haar skaars hoor. Hy sluk-sluk droog en gryp-gryp na Estelle se hand. Haar vingers voel koel tussen syne. Die dokter kom toe die vertrek binne. Jan sien hoe die naald vol getrek word van spuitstof . Jan sluit sy oë vir die slag. Die naald prik pynlik in sy voet. Weer en weer.
Dis toe die dokter die skalpil afvee en ‘n goedgemikte sny maak dwarsoor die wond dat Jan se bloed reguit na sy kop toe gaan. Sy tor word met geweld uit sy baan geslinger en Jan met sy seningrige arms wild begin swaai deur die lug en ‘n kreun oor sy droë lippe sodat hy van die wrede werklikheid ontsnap…
Estelle ruk soos sy skrik toe haar man Jan se arms die teaterlig, die silwerskoon gesteriliseerde instrumente, en die verpleegster omwaai. Sy spring vorentoe om sy arms vas te pen langs die bed. Die verpleegster staan verskrik op vanaf die koue vloer en stryk oor haar uniform. Dan tel sy die skinkbord met instrumente op en gaan haal ‘n vars voorraad uit die kas langs haar. Die dokter gaan voort en sny en grawe in Jan se voet rond asof niks gebeur het nie. Sie verpleegster meld dat die pasient flou geword het.
Sy drup met ‘n ysblokkie aan Jan se lippe en gaan aan met haar werk. Estelle se hart klop in haar keel en haar hande bewe merkbaar. Sy het tien dode gesterf. Sy kyk liewers nie waar die dokter werk nie, sy het nie nou die maag daarvoor nie. Selfs vir ‘n sterk vrou soos Estelle raak dinge soms te veel…
Toe Jan ‘n uur later ontwaak is sy voet in skoon verbande toegewikkel en lyk dit asof niks gebeur het nie. Soos die stilte na ‘n noordwes storm. Hy loer deur half geslote oë na Estelle hier neffens hom. Hy wonder wat vind sy so interessant daar buite. Sy bly dan staar deur die venster?
Terug op die plaas is alles in rep en roer. Estelle vra Yster Brits om ‘n ogie oor die boerdery te kom hou. Eers wil Jan niks daarvan weet nie, want hy vertrou nie n’ ander man by sy hartsdinge nie.
Later moes hy maar aan die bitter pil sluk. Sy kragte is min noudat hy so aan die bed vasgekluister lewe en pynpikke baie sterk .
Estelle kort rus vir haar siel, en kos vir haar gees. Sy dink weer aan haar troubelofte…”deur dik en dun” is soms ‘n sware kruis om te dra. Dis nie net ‘n silwer kettinkie om jou nek nie. Watter bruid het die koste regtig geweeg wanneer sy stralend voor die kansel staan?
Maar van al haar vrese het Estelle nooit gepraat nie. Al sou die snik soms dik sit in haar keel, het sy haar man Jan soos ‘n moederhen versorg. Want sy is ook eens dat sy nie in die wieg gelê is om haar troubelofte ooit te verbreek nie. Sy is baie lief vir haar trou man Jan. Miskien is dít die rede waarom hulle so goed bymekaar pas…Liefde, omgee, en deur alles daar vir mekaar te wees.
Ook nooit vir almal wat so opkyk na die bekende Jan van der Merwe dat hy soos baie mans maar lekker bang kan word by die dokter of in hospitaal. Want dis nie sy plaas nie….
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Mei 2025 – OOP projek