Jou Foto-album
Hoe mooi was jy, toe jy jonk was, Ma
so ongelooflik mooi
jou wange was so rosig
jou lippe, liggies rooi.
Jou hare was gelok, Mamma
oor jou skouers en jou rug
op die foto (toe jy 14 was)
dit was baie jare terug.
Jou glimlag was so soet, Mamma
voor jul huis hier in die Kaap
die kantroos in jou hare
het genestel teen jou slaap
en toe jul met vakansie gaan
het jy ver met die trein gery
deur die Karoo en ook die Vrystaat
en daar by Clocolaan verby.
Hoe mooi was jy, toe jy jonk was, Ma
daar was ‘n vonkel in jou oë
op 16 was jou wenkbroue
die mees perfekte boë.
Jou hare was gegolf, Mamma
al kustend oor jou wang
en ‘n swart strik van fluweel
het dit sagkens vasgevang.
Ek blaai om, na toe jy 18 was
alreeds die mooiste vrou
ek is seker al die jonkmans
was smoorverlief op jou
en jy’t eendag in die son gesit
op die strand by Gordonsbaai
die wind het net so saggies
oor jou volmaakte bors gewaai.
Hoe mooi was jy, toe jy jonk was, Ma
jy was die engel in die koor
daar staan jy met jou room rok aan
o, ek wens ek kon jou hoor.
Jou hare het gekrul, Mamma
effens wild en baie vry
jou swartkop, jou pikante lyf
in die koor se derde ry.
Jy was asemophou mooi, Mamma
met jou hare oor jou hals
in jou balrok toe jy mondig word
ek hoor jy’t heelnag deur gewals
en jou lewe was vol reise
maar die album eindig hier
met ‘n foto op ‘n swart blad
onder die dun van ryspapier.
*
Hoe mooi is jy, noudat jy oud is, Ma
so ongelooflik mooi
jou wange sag en rosig
en jou lippe, liggies rooi.
Jou hare is nou grys, Mamma
effens krul, maar darem daar
korterig en syhaarsag
na vier-en-tagtig jaar.
O, hoe mooi was jy, toe jy jonk was, Ma
lang jare reeds verby
nou’s daar plooitjies om jou oë en mond
maar jy’s nog net so mooi vir my . . .
C. Shaw
25 November 2015
9 Kommentare
-
-
Somerreën
Ek kan saam praat, my moeder is vir my net so mooi, en word selfs mooier soos die tyd stap.... Pragtige gedig Viooltjie....
-
-
Zymrly
Pragtige gedig vir 'n spesiale Ma.
-
neels claasen
ek onthou hierdie pragwerk en hier deel ek my eerste tien goue sterretjies op ink uit
-
Viooltjie
Baie dankie Neels. Ek voel voel nog my weg hier deur INK se werkinge. Dis hoekom ek n paar oues ook opsit sodat ek kan oefen hoe dit werk. Ek waardeer die mooi woorde
-
-
Anze
En dit bly steeds die mooiste ode!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
borrels
Dis pragtig Carma ... my ma is vir my net so mooi :-)