Jongste aktiwiteit:

Kerrie-afval en speelgoed.

Kerrie-afval en speelgoed.

 

Volgens die woordeboek is ʼn dolos ʼn beentjie in die hakskeengewrig van ʼn dier wat as waarsêmiddel gebruik is of ook gebruik is as speelding vir kinders. Die voortrekkerkinders was nie so gelukkig soos vandag se kinders met die luukse van speelgoedwinkels en tegnologie nie.

In die Voortrekkers se tyd was daar eenvoud in die lewe van die kinders. Alhoewel speelgoed skaars was, was daar nie ʼn tekort aan verbeelding en vindingrykheid nie.

Met ʼn handvol dolosse is daar behoorlik gespeel. Die kinders het die beentjies met verbeelding gebruik as osse met skerp horings aan die voorkant en die geronde dele as die osse se boude. Die onderkaak van ʼn os of ʼn perd is ingespan as ʼn wa. Die osse is dan in rye voor die wa gerangskik. Hierdie kakebeenwa is met die hand vorentoe beweeg as nabootsing van ʼn span osse wat die wa trek. Die dolosse het tot hulle eie name gekry wat dikwels dieselfde was as die pa se trekosse. So het die seuns van ʼn jong ouderdom af op ʼn speel manier geleer hoe osse ingespan moet word.

Die seuntjies kon vir ure aaneen speel met die ingespande span dolosse voor die wa. Hulle het selfs die inisiatief aan die dag gelê om skelmpies van sy pa se riempies te gaps vir die swepie waarmee die osse aangejaag kon word.

As jy mooi kyk, kon jy sien dat daar ʼn hol kant aan die beentjies was. Die hol kante moes altyd aan die binnekant ingespan word. Aan die linkerkant het die ‘hot’ osse gestaan en aan die regterkant die ‘haar’ osse. In die spel was daar altyd ʼn hot-kant en ʼn haar-kant. Dit het die linker en regterkant verteenwoordig.

Wanneer die kinders geroep is vir kerrie-afval met aartappels het die kinders se ogies begin blink. Al waaraan hulle kon dink is al die dolosse in die pot!

Dit herinner ons daaraan dat selfs in die afwesigheid van luukshede en tegnologie, kinders ‘n manier kan vind om hul verbeelding te voed en hul eie vermaak te skep.

En dit laat my wonder: skuil daar ‘n les vir ons moderne wêreld in die eenvoudige vreugdes van die verlede?

 

©MarleneErasmus

28/02/2024

 

(361 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed