Jongste aktiwiteit:

Klaaglied van die aarde [Pastiche en interteks na aanleiding van Jan F. E. Cilliers se gedig: Die Vlakte

Klaaglied van die aarde
[Pastiche en interteks na aanleiding van Jan F. E. Cilliers se gedig: Die Vlakte]

My rus word deur die eeue geblus
ontstellend, onrusbarend gestoord
verdof lê ek in die stof en droom
uitgestrek uitgerek verstoord
“…die yl-bloue bande van die ver-verre rande”
het voor my breedte uitgeskuif
berge rommel piekniek-plastiek saai paniek
word op my bodem afgeskuif
en stootskrapers rommel oor my boesem stoot
wyl kettingsae my binneste in flarde skeur

het U oor my woestheid leegheid geswewe
om hiérdie lewe my te gewe, o Heer?
uit die onheil van die nag dra ek ’n vrag
afval uit die onheilsdal het in my skoot geval
geslagte en geslagte geweldadige magte
stortreën kernafval in die sloot van my skoot
diep in my boesem sus ’n onrus
vrees oor wat my lot eersdaags sal wees

sal U hoor my node my opwek uit die dode?
soos in barensnood smag ek, wag ek
op U herskeppingsgebod my God
dat my rus van die verlede herleef in die hede
in heerlikheid onverganklikheid voor U staan
my dae afgeleef koud verrimpeld oud
smag om in nuwe kleed U koninkryk in te gaan

U son kom loer nie meer oor my vloer
en die dou van my lippe verblou tot ryp oor die klippe
my jare word stom en krom voor die mensdom
bleek-stil in my onrus gesus

U sit hoog en verhewe op U troon van lewe
sal U Heer my red van hierdie dood?
vir my inruim ’n plekkie in u hemelruim
klein of groot in my nood

herskep en hernu my met U genadehand Heer
my geskonde skoonheid lê naak en kraak in die  son se skroei
hygend wasem my asem soos spookasem
roggel-roggel hulpkrete uit my longe uit

eens op my blad was ’n eensame doringboom
“soos die Stilte op haar troon, met dorings gekroon, wat roerloos die eeue verdroom”
die strop van verstedeliking het hom omgedop
beswyk voor stede wat oor my bodem uitwyk
“en die stowwe staan soos hul trek en gaan
om my skrale dis te ontwyk.”

in die blou-blou lug kom die spierwit wolkies aangesweef
maar in die wind se ween my blad met reën nie geseën
my oë het dof geraak maar die lyke-kleed van selfsug
sien ek aankom ver en breed oor my blad versprei

ek lê nie meer en luister hoe my spruite
en riviere opgewonde gesels in die duister
want ek het doof geraak en hul stemme het stil geraak …

my rus word deur die eeue geblus
ontstellend, onrusbarend gestoord
verdof lê ek in die stof en droom
uitgestrek uitgerek verstoord
“… die yl-bloue bande van die ver-verre rande”
het voor my breedte uitgeskuif
berge rommel piekniek-plastiek saai paniek
word op my bodem afgeskuif
stootskrapers rommel oor my  boesem stoot
kettingsae my binneste in flarde skeur

sal U hoor my node my opwek uit die dode?
soos in barensnood smag ek wag ek
op U herskeppingsgebod my God
dat my rus van die verlede herleef in die hede
in heerlikheid onverganklikheid voor U staan

my dae afgeleef koud verrimpeld oud
smag om in nuwe kleed
U koninkryk in te gaan …

————–oo00oo———–

(© Pieter Mostert)
[STERGRADERING = BRONS]




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed