kyk noord
hou jou kop in die sand
dan waai die wind nie teen jou wang
gaan maar net aan
jy kan tog niks daaraan doen nie
kyk noord
en voeter voort
sê maar liewer niks nie
terwyl wit kruise om jou groei
.
my hande is afgekap
ek leef in ‘n ontkennende wêreld
skuil om die hoek
solank jy tog net geen opinie hoef te verklaar
leef vir hierdie oomblik
môre is in elk geval nie in ons hand
beskawings kom en gaan
dit is maar die verloop van die wêreld
reageer op min
want jou vel is lankal nie meer dun
keiser, jou stad is aan die brand
wat kan ek tog doen – my lankal daarmee versoen
weergalose aardverwarring verys
binne drome van aardverwarming
dermatologiese uitstel van die lot
van elke sondaarsvolk wat steeds vreet aan die vet
gaan tog net voort – die aarde is rond
o, ..of is dit dalk nog plat – soos die gode se lat
bitter, bekker, lekker
suig die ketter aan sy rekker
Ó Tearlach.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.