Jongste aktiwiteit:

Lazarus en die ryk man.

Lasarus en die ryk man

Dis nog donker wanneer ek in die sitkamer gaan sit. Heidi, die Jack Russel tefie, kom klim op my skoot soos sy elke oggend doen. Ek vat die Bybel van die tafeltjie wat langs my staan. Deur die venster sien ek die tuin en ek hoor die vinke se getjirp in die Koorsboom. In die skemer sien ek reeds die eerste gloed van die son. Die dag is besig om wakker te word.

Toe ek die Bybel oopmaak, val dit oop op die gelykenis van Lasarus en die ryk man.
Toeval?
Vir ‘n paar sekondes wonder ek wanneer is ‘n mens ryk.
Vir die ou in die plakkerskamp is die man in die gemiddelde huis nie ver daarvandaan nie sekerlik ryk.
Vir die gemiddelde man wat nie ver van die plakkerskamp af bly nie, is die man of vrou wat in die meer gegoede deel van die dorp bly baie ryk.
Vir die persoon in die gegoede deel van die dorp is die eienaar van die dubbelverdieping in Silver Lakes Landgoed stinkryk.
So kan ek aangaan.

Wanneer is ryk, ryk genoeg? Wanneer is genoeg, genoeg?

Ek skuif my gemaklik in my stoel en lees van Lasarus wat by die poort van die ryk man se huis ‘n bestaan moes maak deur te bedel. Ek lees van die honde wat sy seer plekke gelek het. Ek lees ook dat, toe die bedelaar dood is, die Engele hom weggedra het. Dan lees ek van die ryk man wat ‘n lewe van oorvloed gehad het. Wat hom nie gesteur het aan Lasarus by sy poort nie. Ek maak die Bybel toe, maar ek kan nie bid nie. Ek staar deur die venster terwyl ek Heidi se ore vryf. Ek sien hulle in my gedagtes. Die omie wat met kort skuifelstappies tussen die karre deur sukkel tot by sy gewone staanplek. Die vrou wat eens ‘n prostituut was en as gevolg van ouderdom haar tot bedelary gewend het. Sy kan niks anders doen nie.

Wat bring ‘n mens by daardie punt uit?

Een vir een skuif hulle voor my verby.

En dan sien ek hom in my gedagtes by die verkeerslig by die brandweer. Ek het hom baie keer daar sien staan. By die verkeerslig met die brandweer aan die een kant en die groot taxi- en bushalte aan die oorkant. Dis ‘n besige kruising. Eers het hy redelik gelyk. Dit het gelyk asof hy gereeld kon eet. Sy toestand, afgesien van die verweerde klere, nie te sleg nie. Blonde hare. Gaandeweg het hy maerder geword. Sy gesig skraler. Hy het met verloop van tyd ‘n yl baardjie gegroei. Ek het hom gereeld gesien, maar nooit met hom gepraat nie. Soms ‘n muntstuk in die bakkie gegooi. Meeste kere weggekyk. Oogkontak vermy. Ek het eendag gesien hoe iemand hom deur die oop venster van ‘n 4 x 4 bakkie klap. Sy bakkie met geld het oor die teer gespat. Ek het gesien hoe hy agteruit steier en amper voor ‘n ander voertuig beland het. Hoe hy rond kruip en die paar muntstukke wat uit sy houer geval het, bymekaar maak. Ek het niks gedoen nie. Net gesit en kyk hoe hy oor sy wang vee waar die agterkant van die man in die bakkie se hand hom geklap het. ‘n Vinnige vee oor sy oë. Het hy dalk gehuil? Ek weet nie. Het hy dalk, terwyl hy daar rondgekruip het, gevra om liewers dood te wees as om verder so in die grond in verneder te word? Die Here sal alleen weet.

Die volgende dag was daar ‘n swelsel aan die een kant van sy gesig.

Wanneer die verkeerslig rooi was, het ek hom dopgehou. Ek het die been gesien wat gelyk het of hy ‘n ongeluk kon gehad het. Daar was littekens. Ek het hom nooit daarna gevra nie. Trouens; ek het nooit, ooit met hom gepraat nie. Ek het nooit ‘n sambreel of ‘n reënjas gesien as dit dalk onverwags begin reën het nie. Ek het hom nooit in my bakkie laat klim vir ‘n bietjie skuiling teen die reën nie.

Ek het op Face Book gelees dat hy dood is. Sy mangels het blykbaar so geswel dat hy nie kon asemhaal nie. Ek lees dat hy buite die dorp iewers in ‘n houthuisie gebly het. Iemand sê hy het in die badkamer van ‘n vulstasie gebly. Ek weet nie. Ek het nooit moeite gedoen om meer van hom tewete te kom nie. Ek lees ook dat hy saam met iemand op skool was. Dat hulle hom geken het. Sy broer was weer saam met iemand anders op skool. Sy ma bedel by ‘n ander verkeerslig. Baie mense sê “Shame, arme kind.”
“ R I P” en “sterkte aan die familie.” Iemand anders sê “hartseer” met ‘n prentjie van ‘n gesiggie met ‘n traan in die een oog. Ek lees ook dat hy soms ‘n saamry geleentheid saam met iemand gekry het.

Hoekom pla sy dood my juis vanoggend?

Lasarus en die ryk man……

Terloops, ek hoor sy naam was Deon.

Herman du Plessis




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed