Jongste aktiwiteit:

LEIPZIG

LEIPZIG

As tiener het ek van ‘n man gelees wat daarvan sou geleef het dat hy aan elke kompetisie met pryse in die koerante, tydskrifte en radio deelgeneem het. In altwee tale, maak nie saak wat die prys was nie. Een of ander tyd moet mens mos wen,” het hy gesê, en hoe meer ek deelneem, hoe groter is my kans om te wen.”

Logies.

Ons speel nie soos die man van vyftig, sestig jare gelede nie, maar elke nou en dan val ‘n ryp appel in ons skoot: Op een of ander manier, met geluk en 50% begunstiging vir pensionarisse het ons vir ‘n reis na Leipzig met twee oornagtings in ‘n hotel met soveel sterre dat dit ons oë seergemaak het, gewen”, vir heelwat minder as die twee treinkaartjies retoer eintlik kos.

♫♬♬♬♪

Waarvoor is Leipzig bekend? Wat het Leipzig om aan te bied? Wie wil nou na Leipzig gaan? En waarom?

Hhmmm?

Van die Duitse stede is Berlyn die hoofstad, Hamburg die grootste hawestad. En, en. . ? Frankfurt het die internasionale lughawe en Europese Sentraalbank, in München was die olimpiese spiele in 1972. Bremen is swaar uitgebom in die tweede wêreldoorlog – maar so was ook Hamburg en Keulen (Köln). En Dresden eers: Dresden het ‘n vlammetapyt beleef, die stad is heeltemal uitgebrand, afgefakkel, sê die Duitsers, ofskoon die Amerikaners glad nie en nooit ofte nimmer fosfoorbomme sou afgegooi het nie; dit was tog verbode. . . Mos. Nè?

Ja, maar Leipzig?

Leipzig is níe ‘n miljoenestad of ‘n belangrike binnelandse hawestad aan ‘n bevaarbare rivier nie. Leipzig is nie in die tweede wêreldoorloig uitgebom nie. In Leipzig staan ook geen besondere katedraal of keiserlike kasteel nie. . . Of tog?

♫♬♬♬♪

Leipzig het ‘n ou kerk, die Kerk van die Heilige Thomas, die Thomaskirche” waar die Thomas-seunskoor, die Thomaner” sing. En wie was die bekendste kantor en dirigent? Ditsem: Johann Sebastian Bach. Die belangrikste mens in die musiekgeskiedenis. Hy wat week-vir-week oor ‘n hele paar jare ‘n nuwe kantate vir die eredienst geskryf het (meer as 170 stuk), naas ontelbare ander geestelike en profane werke, inkluis oratoriums vir elke kerklike geleentheid, asook verjaarsdagmusiek vir sy hertzog, skertsagtiges vir sy kinders en sy tweede vrou ensovoort ensovoort. Bowendien het hy sy musiekteoretiese studie bedryf en in die praktyk omgeset.

♫♬♬♬♪

En nogiets: In Leipzig staan die ou klerekamer vir die uniforms van die destydse soldate. Twee-honderd-vyf-en-sewentig jare gelede het die Leipzigers daarin ‘n konsertsaal ingerig: das Gewandhaus”. In die loop van die eeue is hierdie gebou verskeie kere om- en uitgebou. Vandag kan die groot saal meer as een-duisend-nege-honderd toeskouers of -hoorders huisves – byna twee-duisend in ‘n areaal groter as twee tennis­bane, miskien drie. Die klein saal is veel intiemer — met slegs vier-honderd-en-neëntig sitplekke! Dink net: Die (geskatte) bevolking van McGregor, of Bapsfontein en Sesfontein saam, onder één dak.

En dit alles om die Bachse werke, onder meer, op te voer. Ook sy orrelwerke, op ‘n instrument wat oor ‘n register beskik waarvan die grootste pype ses tot agt meter hoog is en tot twintig of dertig sentimeters dik. Dieper tone kan die menslike oor waarskynlik nie hoor nie.

♫♬♬♬♪

As verjaarsdaggeskenk kon ek drie dae, in hierdie sprokiestad verbring. Die weer was bietjie ongunstig – yskoud tot arkties – maar die son het minstens geskyn en ons het met oë en verbaasde mond wawyd oop deur die oustad” gewandel.

Natuurlik weet ons al dat baie ou geboue uitgebeen” is soos die Duitsers sê, en die nuwe huis daaragter is ‘n betonpalas met alle moderne geriewe. Wat jy sien, is net fassade vir die toeriste”, natuurlik dra die mense normale moderne klere, natuurlik is die deurdringendste reuk die van verbrande petrol, buiten daar is ‘n restourant naby. . . Maar as jy jou fantasie bietjie laat speel, kan jy tog ‘n idee kry van hoe dit in vorige eeue moes gewees het.

Die Leipzigers self beweer met ‘n glimlag dat daar heelwat historiserendes” is en wys graag op die een of ander element, ook op ‘n nuwe gebou, wat ‘n outydse invloed aandui: Iets dories (ou-grieks), romeins, iets uit die barok-, rokokko- of jugendstiltyd – etlike besonderheidjies. Hulle woon nie net in hul stad nie, maar hulle lewe mét haar saam. Hulle is ewe trots op hul Klein Parys”, het haar lief.

♫♬♬♬♪

De Thomaskerk te Leipzig (ek het ‘n brosjuurtjie in Nederlands gevind) het al gestaan toe die universiteit van Leipzig in die aangrensende klooster gestig is. Tydens die reformasie, op die 25e. Mei 1539, het die gemeente tot die Evangeliese geloof van Martin Luther oorgegaan die klooster is gesloop en die universiteit het ‘n ander blyplek gesoek; daarvóór, in 1482 tot 96 egter, is die kerkskip as ‘n laatgotiese koepelkerk nuut opgebou. Op die hooforrel agter oot die ingangsdeur het ‘n reeks beduidsame musici gespeel: Mendelsohn Bartholdy, Liszt, Wagner, en ek weet nie hoeveel meer nog nie.

Familie Bach het in ‘n huis aangrensend aan die kerk gewoon. Ons het nie ingegaan nie (tyd!) maar dit moet ‘n taamlik groot woning wees om sy twintig kinders te kon beherberg het.

♫♬♬♬♪

Vanjaar word op 21e. tot 25e. Maart die drie-honderd-drie-en-dertigste verjaarsdag van Johann Sebastian Bach gevier. Hy was Thomaskantor van 1723 tot aan sy dood op 28e. Julie 1750. Die eerste skriftelike vermelding van die Thomanerkoor stam uit die jaar 1254. Ons neem aan dat die koor so oud is soos die Thomasklooster wat aan die Thomaskerk gekoppel was.

♫♬♬♬♪

In Leipzig vind jaarliks een van die wêreld se grootste boektentoonstellings plaas: Die Leipziger Buchmesse wat nou afloop.

♫♬♬♬♪

16e.Maart2018……………ooOoo…….(MyLaidag1968)tje




2 Kommentare

  • Ano

    My groot droom : om eendag al hierdie ou plekke ook te besoek! Is gefasineerd deur ou geboue.

  • Toom

    In die groot konsertsaal van die Gewandhaus is die yslike orrel agter die orkes aangebring. Ek het gesê dat dit lang, dik orrelpype het en vermoed dat dit die allerdiepste tone is wat die mens kan hoor. 'n Vriend het egter gemeen dat die heelgrootste pype waarskynlik slegs as dekor daar staan, dat hulle glad nie gespeel word nie. Stomme estetik so te sê. As iemand beter weet: Kommentaartjie lewer asseblief! GvT

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed