LIENTJIE DIE MIERTJIE
Lientjie is ‘n miertjie wat diep onder die aarde woon. Sy versorg al die baba miertjies. Die babatjies is baie lief vir haar want sy sing vir hulle liedjies en sorg dat elkeen kossies kry. Daar is altyd ‘n glimlag op haar mier gesiggie.
Lientjie het net een begeerte en dis om die koningin te sien. As die ander miertjies die eiers bring wil sy altyd weet hoe lyk die koningin. Sy dink die koningin is ‘n pragtige miertjie met ‘n fyn lyfie en ‘n kroon op haar kop.
Toe die geleentheid eendag opduik om die koningin te sien, glip sy vinnig by die koningin se kamer in. Sy kyk geskok na die groot mier wat eiers lê. Trane van teleurstelling loop oor haar wangetjies.
“Die koningin is dan vet en sy bly net op een plek lê.”
Daar is ‘n hele paar belangrike mierdokters wat die eiers inspekteur om te sien of hulle gesond is. Dan word hulle na die babakamer geneem. Honderde en honderde eiers. Dan is daar die miertjies wat die koningin voer.
Lientjie sien ook iets anders raak. Die koningin is nie gesond nie. Haar ogies is vaal en haar gesiggie is baie bleek. Vinnig vee sy die trane af en staan nader aan die baie belangrike mier.
“Jou naam is mos Lientjie? Ek het jou gekies as die volgende koningin. Ek gaan nie meer lank leef nie.”
Lientjie se mond hang oop van verbasing. Sy gaan staan styf teen die muur. Sy kyk met groot oë na alles om haar. Daar kom lê ‘n groot bang in haar hart.
“Ek wil nie koningin wees nie. Nee, o nee!” huil haar hartjie.
Vinnig glip sy uit die kamer en af met die lang gang opsoek na haar maatjie, Bennie. Groot trane rol oor haar wangetjies. Verlig sien sy vir Bennie waar hy besig is om kos in groot hope te pak. Hy lyk ook moeg.
“Hallo, Bennie. Het jy dan nie laasnag geslaap nie?” vra sy saggies.
“Nee, die soldate hou my dop. Ek moes die hele nag werk sonder om te rus of te eet. Ek hoor snaakse stories. Die koningin is siek!”
Lientjie se ogies rek. Sy gaan staan styf teen Bennie. Haar ogies is alweer vol trane.
“Ek was by haar. Sy lyk regtig siek. Sy sê ek is die volgende koningin.” Huil sy hartverskeurend.
“Hoekom huil jy daaroor? Jy moet mos bly wees!”
“Ek wil nie koningin wees nie. Sy is vet en lê net die hele dag eiers. Sy beweeg nie eers nie.”
Bennie kyk haar met groot oë aan.
“Ek verstaan nie mooi nie, Lientjie. Dis mos ‘n eer om te sorg dat die mierbevolking uitbrei,” fluister hy naby haar oor en begin weer met die kos werk omdat ‘n kwaai soldaat nader kom.
Lientjie kruip tussen die kos weg en knyp haar ogies styf toe. Haar hartjie klop so doef doef. Sy is baie bang vir die soldate met hulle groot knypers.
“Jy kan maar uitkom, Lientjie. Die soldaat is weg.” Fluister hy.
Lientjie kyk eers behoedsaam om haar heen voordat sy versigtig uit haar wegkruip plek uitkruip.
“Kom ons loop weg, Bennie. As ek die koningin is, sal ek jou nooit weer sien nie.”
Bennie se ogies word treurig. Dit sal ‘n hartseer dag wees as hy nie weer sy maatjie kan sien nie. Hy dink hard aan Lientjie se woorde en saam besluit hulle om die aand weer bymekaar te kom en hulle planne te bespreek.
Die hele dag loop Lientjie met die vrees in haar hart. Sy hoop nie die koningin gaan dood nie. Vir die eerste keer is daar nie ‘n glimlag op haar mooi gesiggie nie. Laat die middag kom twee soldate daar aan en neem haar weer na die koningin.
Lientjie is so bang, haar beentjies kan haar amper nie dra nie. Die koningin lyk sieker as die oggend. Die dokter praat saggies met haar en vryf liggies oor haar groot liggaam.
“Roep vir Lientjie. Ek moet met haar praat,” fluister die koningin moeg.
Lientjie kan sien die koningin is ontsteld. Haastig tree sy nader en gaan styf teen die koningin staan.
“Moenie toelaat dat die soldate jou boelie nie, Lientjie. Jy kan besluit hoeveel eiers jy per dag wil lê. Jy moet môre begin om jou voor te berei om ‘n koningin te wees.”
Lientjie knik haar kop maar sy weet, sy wil nie die koningin wees nie. Sy sal vanaand moet ontsnap anders sal sy nie weer uit hierdie kamer kom nie. Sy knik en luister na alles wat die koningin en sy word al banger
Dit is al baie laat toe Lientjie die koningin groet. Sy draf die gang af na waar Bennie vir haar wag. Sy gryp sy hand en trek hom in die skaduwee in.
“Daar is nie tyd nie, Bennie. Kom!”
Hulle beweeg maar stadig want kort-kort kom soldate verby. Hulle luister na alles wat die miertjies sê.
Skielik gons dit in die miernes. Miere huil hartverskeurend en ander lyk hartseer. Lientjie weet sommer. Die koningin is dood. Daar is nie tyd om te mors nie. Sy moet weg.
Bennie besef dit ook. Hy gryp haar hand en in die harwar van treurende miere, sien niemand hoe hulle vinnig by die opening uitglip nie.
“Kom, Lientjie! Ons moet hardloop!”
Hy skreeu die woorde terwyl hy plat lê soos hy hardloop. Hulle raak weg in die welige gras en val sommer neer om asem te skep. Lientjie kyk nie eers een keer om nie. Sy rus net ‘n paar oomblikke voordat sy weer begin aanstap.
Al waaraan sy kan dink is “vryheid”. Sy skrik groot toe groot druppels water voor haar neerplons. Vinnig kruip hulle onder ‘n blaar in om hulle te beskerm. ‘n Mier kan verdrink in ‘n druppeltjie water. Terwyl hulle wag dat die reën ophou, raak hulle aan die slaap.
Lientjie maak haar ogies oop en sien dat die son skyn. Dis ‘n nuwe dag. Toe sy kyk waar Bennie is, sien sy ‘n hopie grond.
“Wat maak jy, Bennie?”
“Ek maak vir ons ‘n huis. Dan is ek koning en jy koningin. Wanneer die eerste kinders gebore word, soek ons ‘n regte koningin. Dink net, Lientjie. Ons gaan ons eie nes bou. Niemand gaan vir ons sê wat om te doen nie. Ons gaan die koningin bedien.”
Lientjie klap haar pootjies en lag hardop van plesier. Daardie nag le sy ‘n klomp eiers wat sy soos goud oppas. Maar sy sê niks van haar spierwit eiers vir Bennie nie.
Bennie is nog steeds besig om vir hulle ‘n nes te grou toe hy skielik iemand agter hom oor. Hy word yskoud. Is dit die soldate wat hom kom haal? Maar dan sien hy Lientjie se gesiggie en sy hart word sag.
“Kan ek ons eerste mierkinders aan jou bekend stel? Hulle is haastig om jou te help.”
Hy kan sy ore nie glo nie. Die kinders is fluks en gou is die nes groot genoeg vir hulle. Hy en Lientjie kies die grootste meisiemier en kroon haar hulle koningin.
Daar is baie miere wat soos Bennie en Lientjie voel. Dit is hoekom daar soveel verskillende mierneste is.
© Wilma
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2018 - OOP projek