
Maandag skryf ek ’n blouvers
Gister was jou oë
my oneindigheid in blou
maar vandag, my lief
breek die wolke soos wit branders
deur elke traan gestort oor jou.
Die windswaels het verbygevlieg
soheentoe en terug
maar vandag, my lief, vandág
is hul na elders aan die vlug.
En dit is skamel woorde
’n klein versie wat ek rym
maar ek wens, ek wens, ek wens, my lief
jy was vir altyd myn’.
Ja, dit is maar min woorde
sulke bietjies, bietjies taal
maar ek wens, ek wens, ek wens, my lief
dat jy my eendag weer kom haal.
Want gister was jou oë
my weg tot binne jou
maar nou, my lief, maar nou
breek die wolke soos wit branders;
skryf ek ’n Maandagvers in blou.
© Carma Shaw
9 Desember 2019
4:25
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.