Magenta dae
Strate hol getree van honger
verdig teen menslike natuur,
moerbei besmeerde polse skree om vryheid,
versugting wat gil vir meer.
Die koningskleed van nag draal taai
aan deurweekte sonlig-krae,
impulsiewe lag meer gedwonge
gerafel teen lila some.
Rooivonk klou teen baksteenmure
gesmee teen verlede skryn,
die kreukeling van eendagskoon-winde
wat puur ruimtes kloof om hoeke en
nokke se oorhang pyn.
‘n Kalandergeelhout gooi lang skadu’s
oor sondou spasies –
met daglig wat ametis-fonkel sprinkel
oor môre se geleende grasie.
Tyd louter aan ‘n verweerde gees en
die stil gang van ‘n wegloop traan
wyl trompettertjies en lobelia
vol geblom in rooi-blou glorie
teen aanslag gepantser staan.
Sommige dae beul meer as ander.
© Almarie Truter
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.