
Middernag
Middernag slaan
twaalf slae weerklink
deur die misdonker strate
net die huil van die wind
speel psalms deur blare
van ‘n wêreld onsienbaar
meer voelbaar as nou
en deure ontsluit
wat gegrendel moes bly
en vrees wandel rond
en snuffel in stegies
en boomryke lanings
soos ‘n rondloperhond
wat sy tande ontbloot
en jou grommend bedreig
as jy ylings op vlug is
van nêrens na niks..
want wat was is nie daar nie
wat kom nie gebaar nie
en die nou is net vrees
sonder toekoms verlede
en die hede draai maalkolk
tot wete en lewe en asem
verdwyn in die mis
en die nag
en die niks….
© 28/01/2011 Anton Bosch
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
WysEmosie
Pragtig!!!