Jongste aktiwiteit:

My besonderse Mei.

My besonderse Mei.

Ek is seker dat elkeen van ons ʼn gunstelingmaand in die jaar het. Elkeen vir sy eie besondere rede. My gunsteling is beslis Mei. Met Meimaand se koms breek herfs aan. Die dae raak korter en weer koeler na die warm somerdae. Die bladwisselende bome verruil hul groen jasse en tooi hulself in die mooiste skakerings van roesbruin, oranje, geel en selfs pers. Dit is ook die tyd waar die aarde gereed maak om in ʼn rusperiode in te gaan.

Meimaand skop af met Werkersdag op die eerste van die maand. Dit is ʼn nasionale vakansiedag en op hierdie dag word die belangrikheid van die werker se regte gevier. Daar word byeenkomste gereël waar mense bymekaarkom en die geleentheid vier.

My gunsteling kuierplek in Meimaand is om die groot, ou houttafel in die kombuis. Met ʼn vuurtjie in die kaggel word soppe en bredies ons gesin se trooskombers. Ek speel na hartelus met die heerlike smake en geure van geregte. Tamatiesop bly maar net ʼn treffer! Herfs skemer sterk deur in die gebruik van borrie, paprika en roosmaryn.

In Mei vier ons as Christene ook Pinksterfees. Tydens hierdie tyd, wat presies vyftig dae na Paasfees plaasvind, herdenk ons die uitstorting van die Heilige Gees. Dit is ʼn wonderlike tyd waar gelowiges bymekaar kom en met groot blydskap dankbaarheid betoon teenoor Christus.

Sportgebeure in Mei: dit is die tyd waar die atlete ernstig voorberei vir die jaarlike Comrades Marathon wat in Junie plaasvind. Die ultramarathon is die oudste en grootste ter wêreld. Die wedloop geskied tussen Pietermaritzburg en Durban. Dit is een van die grootste sportbyeenkomste jaarliks.

Meimaand is die natuur se skouspelagtige tyd. Skoonheid word vertoon in die skakerings van herfs. Inheemse blomme is in hulle volle bloeitydperk en mense stroom na die Wes-kaap om die proteas en fynbos-plante te bewonder. Van blomme gepraat moet ons nie die kraanvoëlblom vergeet nie.

Meimaand se bekoring lê vir my in die oorgang van die seisoen. Dit is die perfekte tyd om tyd af te knyp vir ʼn vinnige wegbreek. Ons gesin hou daarvan om Magoebaskloof te besoek. Ons kan vir ure ronddwaal in die inheemse woude met die pragtige varings en welige plantegroei.

Wat is dan beter as heerlike skons in die teetuin wyl geel blaartjies saggies grondwaarts warrel.

Alles in ag genome, is Mei die maand wat jou toelaat om heerlik te ontspan terwyl jy die skoonheid van die natuur geniet.

Mag jy my gunsteling maand: Mei, net so baie geniet!

©MarleneErasmus

02/05/2023

(415 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed