God dig die skepping
Die Gees van God het gesweef
oor die die waters van duisternis
wanorde woestheid leegheid –
daar was niks …
D-a-n
metrum Hy ’n meesterlike kosmiese orde
– creatio ex nihilo –
God dig Genesis – die Begin –
polisindeton ’n dimensie van tyd en ruimte en energie
skielik was daar iets
Legio neologismes wemel in Sy skeppingsgedig
God dig lig
oksimoron lig van duisternis
metronoom die nag- en daeraad
dit was aand en dit was môre –
die strofe van die eerste dag in Sy digbundel gekarteer
Sy magswoord metafoor die uitspansel –
inversie die ewig uitdyende kosmiese heelal
oksimoron die waters deur ‘n gewelf
dit was aand en dit was môre –
die tweede dag is in ’n koeplet in Sy digbundel gekarteer
God dig LEWE
Hy vul die aarde met plante en diere,
seën hulle en sê: “wees vrugbaar en vermeerder”
dit was aand en dit was môre –
die derde dag is in ’n tersiene in Sy digbundel gekarteer
God dig die son en die maan en die sterrestelsels
binne die idioom van Sy metafoor dig Hy
twee groot ligbronne
wat tussen derduisende sterre hang
wat aan die hemel van Sy gedig wemel
die son bedags
die maan snags
in die uitdyende kosmiese gewelf
dig Hy die seisoene
dit was aand en dit was môre –
die vierde dag is in ’n kwartyn in Sy digbundel gekarteer
deur Sy magswoord dig God
‘n avifauna en ’n akwatiese sisteem
“…voëls van die hemel en visse van die see…”
die Digter seën hulle om met vrugbaarheid
in die digbundel van Sy ekologiese stelsel op die aarde in te skakel
dit was aand en dit was môre –
die vyfde dag is in ’n kwintet in Sy digbundel gekarteer
met Sy personifikasie dig God die mens
uit die stof van die aarde
in die suggestie van Sy beeld en Sy gelykenis
as Sý digter op die aarde
die Digter seën die mens om met vrugbaarheid
in die digbundel van Sy ekologiese stelsel in te skakel
daaroor te heers te bewerk en te bewaar –
as rentmeesters van Sy gedig
toe die digter deur Sy skeppingsgedig lees het Hy gesê:
dit was baie goed.
dit was aand en dit het môre geword –
die sesde dag is in ’n sestet van Sy digbundel gekarteer
op die sewende dag het die Digter gerus
dít is Sý Sabbatdag
deur Hom geseën en geheilig
die engele in die hemel het die Digter
se skeppingswerk aanskou
elk met ses vlerke omvou
een vir elke skeppingsdag
om daarmee Sy lof te verkondig
en met verheerlik toe te sing
maar
op die sewende dag was selfs die engele stil
en het die Sabbatdag sélf
‘n loflied die Digter
en
Sy skeppingsgedig toegesing
Die Digter het die Sabbat geheilig
en
aan elk van Sy Engele
’n sewende vlerk toegedig
– Creatio continua –
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2023 - OOP projek