
My lojale vriend.
As jy aan ’n vierpootvriend dink, spring beelde van nat neuse, swaaiende sterte en oë wat altyd vir jou sê: “Ek is so bly om jou te sien,” dadelik na vore. Die wonderlikste van ’n vierpootvriend is dat hulle nie voorgee of jou komplimenteer om iets in ruil te kry nie. Nee, hulle is net daar – vir jou, met jou, en soms onder jou voete. Ek moet nou ook erken, ek het al ’n paar keer amper ’n volle koppie koffie oor my viervoetige sielsgenoot se kop gegooi, maar hy kyk net na my, kop skeef, en dit maak nie saak nie. Hy is net te bly ons deel die ruimte, selfs al is dit soms bietjie ongemaklik.
Wanneer ek soggens in die kombuis instap – en hier moet ek byvoeg, ek is nie iemand wat vroegoggend met groot entoesiasme vir die lewe groet nie – staan hy al met sy stert wat soos ’n metronoom teen die vloer klop. Sy ogies skitter en vir hom is ek die belangrikste persoon van sy dag. Ek kan voel hoe sy oë elke beweging van my volg terwyl ek koffie maak en brood rooster. Ek is seker hy dink: “Daar is sy… die bron van kos!”
Sodra die yskas se deur oopgaan, kry ons beide energie. Hy weet ek gaan ietsie laat val en vir daardie oomblik is hy gereed om enige krummeltjie soos ‘n wafferse stofsuier op te slurp. En ek, ek weet ek gaan eers heel wakker word ná my eerste slukkie koffie. Dit is ons ritueel: ek met my beker, hy met die hoop om iets lekkers te kry.
Daar is iets so spesiaals aan die stille kommunikasie tussen my en my hond. Ons gesels nooit regtig nie, ten minste nie op ’n menslike manier nie, maar tog verstaan ons mekaar op ‘n manier wat nie woorde nodig het nie. As ek hartseer is, voel hy dit dadelik aan. Hy skuif stilletjies nader, sit sy kop op my skoot en gee my daardie diep kyk wat sê: “Ek is hier’ ek verstaan.” Op daardie oomblik is hy meer as net ’n troeteldier – hy is my terapeut, my ondersteuner en, ja, selfs my sielkundige.
Elke mens beleef daardie dag waar dit voel of alles skeef loop, waar die lewe net te veel raak. Jy kom by die huis, gooi jou handsak neer, en daar is jou hond wat regop sit met daardie blik van: “Ek het heeltyd vir jou gewag!” Jy kan dit nie help om te begin glimlag nie. Die probleme van die dag smelt weg, en voor jy jou kom kry, lag jy vir sy snaakse maniertjies – hoe hy sy kussing rondstoot of probeer om op jou skoot te sit, al is hy te groot daarvoor.
Selfs wanneer hy aan die slaap raak, kyk ek soms na hom en dink: Hoe gelukkig is ek om hierdie onvoorwaardelike liefde in my lewe te hê? Geen pretensies, geen verwagtinge nie. Net liefde – en dalk ’n kossies langs die pad. As daar een ding is wat my vierpoot vriend my geleer het, is dit om die klein dinge in die lewe te waardeer. Om die son te geniet wat op jou skyn, om bly te wees oor elke kosbare oomblik en om vir niks meer as ’n vryf oor jou maag te vra nie.
Soms wonder ek of ons as mense nie dalk ‘n bietjie meer soos ons vierpootvriende moet wees nie. Minder oordeel en meer vreugde oor die eenvoudige dinge in die lewe. Miskien moet ons net bietjie meer waarde heg aan daardie klein oomblikke – soos wanneer ons saam met ons troeteldiere onder ‘n kombers lê, al is daar niks besonders aan die dag nie, maar dit voel soos genoeg.
Uiteindelik, dit maak nie saak wat ek deur die dag gedoen het of hoe ek voel nie, ek weet my viervoetige vriend sal altyd daar wees, gereed met ’n kwispelende stert en oë vol liefde. En in sy wêreld, maak ek elke dag sin. Daar is iets kosbaars daaraan, om ’n held te wees in jou troeteldier se wêreld, al voel jy nie altyd so nie.
’n Engelse spreekwoord lui: “A dog is man’s best friend, but if you turn ‘dog’ around, it states ‘God’.”
©MarleneErasmus
30/09/2024
(709 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2024 – OOP projek