My Wintermaan (Ruminasie)
Die bouvalgeraamte het my siel genaak
toe ek baie jare later wou gaan groet
want ek wou graag dat kindertyd weer waar moes raak.
Maar die waenhuisdak is lankal kaal gestroop
en waar toentertyd ‘n deur en venster was
gaap gitte-donker waar nou net spoke loop.
Die ou suurkaree -deur bliksems raakgeslaan
dra rumatiekverkrom nog steeds haar drag
-soos toet- maar iets in haar het doodgegaan
want ek proe aan haar gom die bitter van gal;
sien in die bylmerke op menige tak
huilgom as trane wat in die dor grond val.
Wanneer die bleekmaan grou-spokig wolkies waad
en gedagtes slaaploos enkellopend word
oor min van die goeie, oordadig die kwaad,
rumineer ek oor die Prediker wat leer:
Alles is gejaag na wind en tevergeefs
want wat kom was reeds en wat is verweer ….
(Die son het voordag die vliesigheid gestulp
tot dowwe lilla en oranje-mengsel
as weerskynsel van die tooiings van ‘n tulp
…en vergete raak die waenhuis sonder dop
en afdopmure wat sindsdien my siel genaak
want ek voel weer God se vrede in my klop!)
8 Kommentare
-
-
Evelyn van der Merwe
Jou woorspeling, vergelykings en beskrywings kan my maar slegs laat hoop om ook eendag so 'n pragwerk te kan lewer. Staande applous.
-
Cornien
Baie goed verwoord, voel of mens daar is en als aanskou!
-
Viooltjie
Hierdie is 'n baie pragtige gedig. Welgedaan :-)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
sjoe, diep en nostalgies geskets soos net jy kan!! Pragtig gepen