‘n Pop vir Elma deur Lynelle Clark
“Kyk wat het ek vir jou gekoop, Elma?” gretig steek Elma haar arms uit en neem die pakkie by Tannie Esmé. Oorstelp van vreugde druk sy die pakkie teen haar bors, haar gesiggie straal geesdriftig. Die blink geskenkpapier spoor haar nuuskierigheid aan en met gretige vingers pluk sy opgewonde die papier af.
“Wat sê jy Elma?”
“Dankie Tannie.” En met kort armpies omsirkel sy haar geliefde tannie se nek en gee haar ‘n stywe drukkie. ’n Klapsoen volg met ‘n vrolike laggie wat die lug in warrel. Wanneer Tannie Esmé kom kuier bring sy gewoonlik iets saam vir haar. Al haar maatjies is jaloers op haar versameling poppe wat sy spesiaal vir haar bring van haar togte. As lugwaardin vlieg sy die wêreld vol en hulle sien haar gewoonlik net vir ‘n paar dae voor sy weer moet land uit.
“Dit was ‘n plesier, ek hoop jy hou daarvan.”
“Jy bederf haar te veel Sus.”
“Dit is hoekom ‘n mens tannies het, Yvette.” Sê Esmé beterweterig terwyl ‘n glimlag haar gelaat opvrolik. Sy plaas die kind terug op die mat en gee dan haar volle aandag aan haar suster. Elma se aandag was alreeds op die pop wat nog in die boks is. Weggevoer oor die nuutste toevoeging tot haar versameling. Alle geluide vervaag om haar en met gretige vingers haal sy die pop uit die boks uit. Met verwondering staar sy na die pop se gesig. Elke uitdrukking so eg en met ‘n vingertjie volg sy die delikate lyne op die porselein gesiggie na. Die rooi lippies granaat rooi en sonder huiwering plak sy ‘n nat soen op die lippies. Maar dan verstar sy. Sy is seker die lippe het beweeg en sy hou die pop armlengte weg van haar om seker te maak maar die pop staar net na haar. Elma glimlag en vergeet daarvan soos wat sy die fyn klere bestudeer. Die ragfyn kant voel sysag onder haar vingers. Die rooi strik om haar middel gly deur Elma se vingers en verwonderd pluk sy daaraan. ‘n Bloed druppel val op haar handjie. Verbaas staar sy daarna en vee dit dan af teen haar eie somersrok.
Weer pluk sy aan die lint en nog ‘n druppel verskyn op haar hand, hierdie keer kyk sy op en verstar heeltemal. ‘n Druppel bloed rol uit die pop se popblou oë en vlek die wit wang. Elma laat die pop val met ‘n harde plof en beide die ouer vrouens kyk verskrik na haar.
“Wat gaan aan Elma?” Elma begin te huil. Sy kyk op terwyl bloed uit haar groen oë drup. Dit maak nie saak hoeveel sy vee nie dit stroom teen haar wange af teen die tyd wat Yvette by haar kom.
“Bel die dokter!” gil Yvette maar Esme staar na die pop. Die aakligste uitdrukking verskyn op die porselein gesig en ‘n grynsslag ontbloot skerp klein tandjies. Die eens mooi pop verander in nar-agtige masker met bloedbelope ronde kykers. Daardie kykers hou Esmé gevange sodat sy soos ‘n zombie na die kombuis beweeg. Die pop het nou ‘n lewe van haar eie en met een vinnige beweging sit sy op Esmé se skouer. Al fluisterend hits sy Esmé aan wat stilweg reguit na die messe op die toonbank stap. Die grootste mes kom te voorskyn en Esmé draai om. Dieselfde doodskyk wat in die pop is word nou in haar gewaar en sonder aarseling stap sy terug. Bloed stroom uit haar ligblou oë maar haar mondhoeke trek die meeste aandag. Soos ‘n nar het dit opgetrek en haar wange opgedruk tot teen haar oogkaste met twee vlermuisagtige tande wat bonatuurlik uitsteek oor haar onderlip.
Weer gil Yvette vir Esmé om die paramedici te bel maar stilte was die enigste klanke wat haar begroet het. ‘n Stilte wat haar laat koud kry en sy gril. Toe Yvette opkyk om haar suster te soek, stol die gil op haar lippe. Wasbleek staar sy na haar suster; wat skielik ‘n onbekende persoon geword het. Sy sukkel om sin te maak met die skielike veranderinge wat voor haar afspeel.
Sagte ween geluide trek weer haar aandag en Yvette fokus terug na haar dogter. Maar die gesig wat na haar terug staar is nie haar dogter nie. Dit is dieselfde as haar veranderde suster. Vlymskerp tande word ontbloot uit die vaal gesiggie en met bonatuurlike krag kom haar dogter tot lewe en val haar aan met vlymskerp kloue. Onseker probeer sy keer en roep uit: “Elma, dit is mamma.” Maar niks stop die aanval nie. Skielik is Yvette vasgevang tussen twee geliefdes wat nou berserk geraak het. Yvette se gille verander in smeekgeluide. Die genadelose monsters wat wreedaardig op haar toegesak het was doof vir haar smekinge. Die eerste verandering wat Esmé se dobbelganger aanbring is om Yvette se mond te verander. Naragtig nes hulle sin. Elkeen kry ‘n beurt om ‘n merk te maak. Daar was geen keer aan die bloedbad nie.
Sissende geluide bereik Yvette se ore. Die sis-klanke verander in herkenbare woorde. Sagte woorde wat haar deurboor. “Ons haat jou! Jy moet vrek! Maak dood die heks!”
Toe sy haar laaste asem uitblaas was daar net een vraag op haar misvormde lippe: “Hoekom?”
Geskok sak Esmé voor haar Sus se lewelose liggaam neer. Yvette se gesig was heeltemal opgekerf. Maar die ergste was die groteske grynslag op haar eens mooi gelaat. En haar oë – twee swart poele met die kykers wat op die mat langs haar lê. Sy gil ontstellend, die mes nogsteeds vasgeklem in haar bloedbelope vuiste. Elma se gille laat haar egter stilbly en verdwaas aanskou sy hoe bloedklonte uit haar mond val voor sy neer sak op die mat. Spierwit. Die toneel maak net nie sin nie. ‘Wat het gebeur?’ vra sy voor die mes in haar borskas verdwyn.
Op die mat, te midde van die bloedbad, het die pop gelê, onskuldig en porseleinagtig. Soos ‘n engel. ‘n Teenstelling met die res van die chaos in die vertrek.
©LynelleClark2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.