‘n Somer om te vergeet
Was dit die blou van die see,
was dit die geel van die son –
daardie één seisoen
was sy lief vir hom.
*
Somereinde het hy kom groet.
Skaars ‘n voet oor die rooi stoep gebaan,
half afsydig by die trap bly staan
langs die room pilaar.
So, asof hy vreemd was
aan daardie oorbekende plek.
Kom groet –
asof hy haar nooit leer dans het nie,
asof daar nooit skemeraande,
kaalvoete en ‘n strand was nie.
Asof sterre op die sand
(tussen rotse)
níks was nie.
Daardie dae was dinge anders.
Facebook, WhatsApp – wat was dit?
Totsiens was vir altyd.
Europa was ‘n baie ver plek.
Einde somer het hy kom groet,
só asof hy van alles wou vergeet.
En sy was te jonk om te weet –
*
dit was net die blou van die see,
net die goud van die son.
Maar daardie één seisoen
was sy lief vir hom.
© Carma Shaw
19 Augustus 2017
4 Kommentare
-
-
Okatopi
Ek love dit Viooltjie so teer
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Marisa J. Labuschagne
Hierdie is so 'n pragtige gedig. Baie dankie! Ek voel die emosie, nostalgie en die romantiek van die storie soos ek lees.