Jongste aktiwiteit:

‘n Venster in die heelal

Dekades gelede was ek slegs ‘n spikkel
in die almag van die hemelruim,
dalk nie eens ‘n vormende gedagte
of wens nie maar wel beplan deur Sy genade,
so mildelik gestort in my lewe,
sonder tierlantyntjies of bravade.

Gemaak uit stof en die niks…
van die wind wat soms roekeloos of geruisloos
kan pluk aan al die wonders van Sy skepping.

Groot geword met lief en leed en soms… lag.

Gewonder hoekom is ek daar,
hoekom ek, hoekom en waarom
‘n klad kol op die lewens boek van bestaan –
tot U my neem op die bergtop van empatie…

So baie gevra hoekom en waarom
en tog telkemale bewus gemaak
van dankbaarheid…
met al die leed en pyn sigbaar om my,
onbewaak.

Met wasdom –
die onderskeid tussen swaarkry
en smarte of beter af…
dankbaarheid vir die daaglikse
en genade met flenter harte en klere.

Voor omstandighede my wou verswelg
word ek bewus van lewens drenkelinge
hou U my nog staande as ‘n baken in die donkerte…

armoede wat loshande baljaar in koskaste
of skoon en verbleik in ‘n uittand hangkas glimlag,
word ek bewus van omgee en meegevoel –

Roer my gemoed of vlam op in die verkeer –

loer die sonstrale sagkens blink deur boom blare
en nestel hom warm op my voorarm –
en jubel tussen blom plaat en die immergroen,
streel saggies oor ‘n spieëlglad meer.

Soms versonke in eindlose leed
skyn U ster belaaide hemel
in die kom van my trane,
het ek gedink ek’s so alleen –
maar U was daar met die maan
wat by my siel se venster in loer,
maak U my rustig
met die nag geluide en duif wat koer.

Besef ek U laat my nie vir ‘n oomblik alleen –

Al laat kommer ‘n waas sak oor my oë
en ligaamlike skete soos ‘n vlymskerp swaard brand,
is U daar…

Ja van my skepping, my bestaan…
maak U my bewus van die eerste bestaan,
van die groter hart die groter omgee –
skets U die hemelruim snags met al sy prag…




Om te skryf is my passie, vir 'n wyle ontvlug ek die gejaag. Kry ek 'n oomblik om te voel, te sien en weer te gee, skepping, harts taal - beleef ek die inner siel van my medemens.

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed